Die Tshwane-metro betaal 1 sent vir ‘n liter water, maar 10 sent per liter om dit met tenkwaens te laat aflewer.
Die VF Plus het daarom ʼn dringende beroep op die metro se stadsbestuur gedoen om rekenskap te gee oor dié skokkende wanverhouding tussen die werklike koste van water en die koste om dit met gehuurde watertenkwaens aan gemeenskappe te verskaf.
Dit blyk uit ʼn verslag van die metro se openbare rekeningekomitee (MPAC) dat die prys van water tienvoudig verhoog deur aflewering met tenkwaens.
Dié uitgawe beloop meer as R530 miljoen per finansiële jaar en is onvolhoubaar.
Die VF Plus steun nooddienslewering aan gemeenskappe, maar wanneer miljoene rand bestee word aan watertenkwaens sonder behoorlike kontrakte, tenderprosesse of kostebeheer, is daar rede tot kommer – veral wanneer talle woonbuurte steeds sonder wat sit.
Die VF Plus het reeds bewyse ontvang van ernstige wanpraktyke in die gebruik van watertenkwaens.
Daar is gevalle waar tenkwaens vir ure stilhou sonder om water af te lewer, wat dui op ondoeltreffende dienslewering. Daar is ook aanduidings van dubbele fakturering vir dieselfde ritte, wat vrae laat ontstaan oor finansiële bestuur en monitering.
Verder is daar sedert 2021 geen behoorlike dokumentasie van kontrakte nie, wat die proses ondeursigtig en kwesbaar vir misbruik maak. Daar is ook geen duidelike monitering van afleweringsroetes of volumes nie, wat die akkuraatheid van diensverslaggewing ondermyn.
Om hierdie probleme aan te spreek en toekomstige misbruik te voorkom, moet ʼn onafhanklike forensiese ondersoek na alle watertenkwa-kontrakte sedert 2021 gedoen word. Amptenare wat by wanadministrasie betrokke is, moet summier geskors word.
Die VF Plus dring aan op ’n kosteanalise van die huidige afleweringsmodel, met die doel om alternatiewe te identifiseer wat op die langtermyn volhoubaar, kostedoeltreffend en diensgerig is en nie ’n moontlike voedingsbron vir die sogenaamde watermafia is nie.
Wanneer die aflewering tien keer duurder is as die produk self, is dit duidelik dat iets ernstig verkeerd is.
Die VF Plus sal nie rus totdat daar verantwoording gedoen word vir elke sent wat bestee word nie en ʼn model gevestig is wat die inwoners dien en nie kontrakteurs of korrupte netwerke wat voordeel trek uit krissise nie.


