Die gekwalifiseerde ouditmening van die ouditeur-generaal (OG) oor die Tshwane-behuisingsmaatskappy toon ʼn tendens van wanbestuur, finansiële tekortkominge en die herhaaldelike oortreding van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).
Een van die oorsake van die gekwalifiseerde ouditmening is die weiering van die voormalige finansiële hoof om sy samewerking aan die OG te gee.
Dié optrede is ʼn direkte oortreding van die MFMA wat vereis dat daar effektiewe en deursigtige finansiële- en risikobestuurstelsels moet wees.
Die feit dat die pos van die Tshwane-behuisingsmaatskappy se finansiële hoof steeds vakant is, ondermyn ook die instansie se finansiële stabiliteit.
Verder is die afwesigheid van ’n gedokumenteerde risikoraamwerk, die gebrek aan formele opleiding vir amptenare en die herhaalde afstel van bestuursvergaderings, ’n aanduiding van ’n wanfunksionele bestuurskultuur. Dit is ook in stryd met die wet wat tydige verslagdoening en effektiewe interne beheer vereis.
Die volgende ingrypings is dringend noodsaaklik:
• Dissiplinêre optrede teen uitvoerende beamptes wat bygedra het tot ouditversuim en finansiële wanbestuur.
• Spoedige aanstelling van ’n gekwalifiseerde finansiële hoof met ervaring in munisipale finansies.
• Verpligte bestuursopleiding vir alle amptenare.
• Volledige hersiening van die voorsieningskanaalbestuur en projekleweringstelsels.
• Kwartaallikse openbare prestasieverslagdoening soos wetlik vereis.
Die VF Plus bly verbind tot skoon regering, gedesentraliseerde aanspreeklikheid en die beskerming van openbare hulpbronne.
Die party sal die Tshwane-behuisingsmaatskappy se prestasie noukeurig monitor en sal nie huiwer om hierdie kwessies na ʼn hoër oorsigliggaam te verwys indien daar nie daadwerklike regstelling plaasvind nie.


