Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-burgemeester se uitreikprogram blote oëverblindery

Dit blyk duidelik uit die vierde kwartaalverslag (April tot Junie) dat die uitreikprogram van die Ekurhuleni-metro se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, blote oëverblindery en ʼn duur oefening met belastingbetalersgeld is.

Al word die program bemark as ʼn poging om regering nader aan inwoners te bring, kom dit in werklikheid neer op toesprake, foto-geleenthede en seremoniële besoeke.

Die verslag self ontbloot die waarheid. Van al die verbintenisse wat departemente gemaak het, is meer as ʼn derde onvoltooid en die meerderheid van die sogenaamde vorderings kom neer op vertragings, verskonings en uitstellery sonder enige einddatum.

Die uitreikprogram moes inwoners direk toegang gee tot die burgemeester en sy komitee, maar in die praktyk het dit ’n kultuur geskep van verbintenisse wat nooit vervul is nie.

Kwessies wat inwoners opper, word herhaaldelik uitgestel, van een departement na ’n ander geskuif, of eenvoudig laat vaar wanneer amptenare versuim om op te tree.

In stede daarvan om gemeenskappe te bemagtig, laat die program hulle gefrustreerd oor verbreekte beloftes.

Die mees verdoemende aspek is dat dieselfde probleme kwartaal ná kwartaal weer opduik.

Departemente soos menslike nedersettings en paaie en vervoer bly boaan die lys van onvoltooide verpligtinge, terwyl verskonings soos “begrotingsbeperkings” en “tekort aan toerusting” aangevoer word om swak beplanning en swak toesig te verbloem.

So het departement van menslike nedersettings altesaam 25 verbintenisse aan die gemeenskap gemaak, maar slegs een is voltooi, ses is tans onderweg en 18 is nog uitstaande.

Die VF Plus glo dat ware uitreik veel meer vereis as gemeenskapsvergaderings en glansverslae. Dit verg implementering, aanspreeklikheid en meetbare uitkomste. Inwoners wil ordentlike paaie, betroubare dienste, behuisingsoplossings en vinniger reaksietye hê – nie politieke oëverblindery nie.

Die burgemeester moet eerder sy sogenaamde uitreikprogram skrap en eerder ʼn deursigtige meganisme vestig om die metro se verpligtinge teenoor inwoners na te kom.

Gemeenskappe behoort nie eindeloos te wag vir dienste waarvoor hulle reeds betaal nie. Hulle verdien ook nie om as agtergrond gebruik te word in politieke veldtogte nie.
Ekurhuleni verdien leierskap wat luister én resultate lewer.

Die VF Plus sal voortgaan om die metro tot verantwoording te roep totdat inwoners werklike resultate sien, nie net georkestreerde vertonings nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.