Die VF Plus kan nie die Tshwane-metro se konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar steun nie en stel voor dat daar eerder gefokus moet word op waarde vir geld met verkrygingsprosesse en die bekamping van vrugtelose uitgawes.
Inwoners sukkel reeds om kop bo water te hou met die metro se huidige tariewe te midde van ʼn swak ekonomiese omgewing.
Die voorgestelde verhoogde tariewe is ver bo die inflasiekoers van 3.2% en is soos volg:
• Vullisverwydering verhoog met 5%
• Krag met 12%
• Water met 13%
• Sanitasie met 6%
• Reinigingsheffing vir oop erwe beloop R194.37
Daar moet egter met kommer kennisgeneem word dat die komponent wat die grootste inpak op elke munisipale rekening het juis die van krag en water is en daarom moet daar eerder gefokus word op die bekamping van uitgawes as om bloot tariewe te verhoog.
Die tarief vir die berekening van eiendomsbelasting verlaag met 4% vir alle kategorieë eiendomme, maar dit moet beklemtoon word dat dit nie beteken dat eiendomsbelasting gaan verlaag nie.
Die voorgestelde aanpassing van die waardasierol gaan lei tot ʼn skerp styging in eiendomsbelasting en die verlaging in die tarief is ʼn foefie van die huidige ANC/EFF/ActionSA-koalisieregering om hierdie feit te verdoesel.
Om dié rede is dit dan ook moontlik om in die voorgestelde begroting voorsiening te maak vir ʼn toename van R1 miljard op inkomste uit eiendomsbelasting. Die feit dat die proses vir die hersiening van die waardasierol nog nie afgehandel is nie, beteken dat die verwagte inkomste waarskynlik nie gaan realiseer nie.
Die VF Plus is ook gekant teen die instelling van ʼn nuwe “stadsreinigingsheffing”. Die VF Plus voel sterk daaroor dat die departement sy huidige begroting beter kan aanwend deur onder meer van tegnologie gebruik te maak, aansporingsmaatreëls vir die publiek vir die aanmelding van onwettige storting in werking te stel en aandag te skenk aan die opening van meer stortingsterreine.
Die begroting is verder onrealisties aangesien die metro aandui dat sy surplus met soveel as 476% styg.
Van die redes vir die skerp styging is ‘n verwagte verhoging van 18% aan inkomste deur die verhuring van munisipale bates. Die metro kon nie daarin slaag om sy teikens in die verlede te haal nie en ʼn stewige verhoging blyk hier onrealisties te wees.
Die VF Plus stel ook verder voor dat daar in diepte na departemente se uitgawes gekyk moet word en dat veral politieke kantore verklein moet word. Van die ander voorstelle van die VF Plus sluit in:
• Hersiening van die mikrostruktuur en gevolglik die vermindering van uitgawes aan salarisse bestee op amptenare.
• Reservering van inkomste per wyke of streke moet ingestel word vir besteding op kapitale projekte vir die opgradering asook onderhoud van infrastruktuur binne die gebiede asook die lewering van basiese dienste.
• Die verkoop van eiendomme wat behoort aan die metro, insluitend huise, onnodige kommersiële geboue en grond en die fondse daardeur gegenereer aanwend vir broodnodige kapitale projekte.
• Die uitroei van onwettige krag- en waterverbindings wat die belastingbetaler miljoene rande kos.
• Daarstel van beleid vir die terugkoop van krag van gebruikers.
Die VF Plus doen ʼn ernstige oproep op inwoners om aan die openbare deelnameproses deel te neem rakende die voorgestelde begroting ten einde hulle stemme e laat hoor.
Die VF Plus sal die datums deurgee sodra dit beskikbaar is.


