Die VF Plus het vandag tydens die repliekgeleentheid op die Tshwane-metro se begroting vir die 2026/27-finansiële jaar gewaarsku dat die voorgestelde begroting nie die metro se werklike finansiële posisie weerspieël nie en ook nie die ernstige diensleweringskrisis aanspreek nie.
Die party het die begroting nie gesteun nie en dit duidelik gestel dat die dokument nie in voeling is met die werklikheid nie. Die administrasie maak steeds staat op optimistiese inkomste-invorderingsprojeksies, sonder om betekenisvolle hervormings deur te voer om die metro se finansies te stabiliseer.
Daar bestaan ernstige kommer oor die voortgesette swakhede in die verkrygings- en voorsieningskettingbestuur. Jare van korrupsieskandale, twyfelagtige kontrakte en ’n gebrek aan aanspreeklikheid het die publiek se vertroue in die metro ernstig geskaad. Inwoners verdien die sekerheid dat openbare geld verantwoordelik en deursigtig bestee word.
Die begroting is ook polities gemotiveerd en word gebruik om korttermyn-doelwitte na te streef eerder as om volhoubare bestuur en basiese dienslewering te verseker.
Die primêre taak van die metro is om betroubare dienste aan inwoners te lewer, nie om politieke belange en gekoppelde netwerke te dien nie.
Die Tshwane-metro moet ’n praktiese, oplossingsgerigte “terug-na-basiese-beginsels”-benadering volg. Dit behels die versterking van inkomste-invordering, voorkomende infrastruktuuronderhoud, die herstel van aanspreeklikheid, verbetering van finansiële beheer, die herstrukturering van voorsieningskettingbestuur en die prioritisering van dienslewering bo polities-gedrewe projekte.
Sonder werklike hervorming sal toenemende finansiële druk, operasionele onstabiliteit en groeiende agterstande in dienslewering die metro in die gesig staar.
Inwoners moet registreer en op 4 November vir die VF Plus stem om die ANC en sy vennote se beheer oor die metro te verbreek.


