Die VF Plus eis dat daar kragdadig opgetree word teen lede van Ekurhuleni se metropolisie (EMPD) wat vandag talle plaaslike hoofroetes versper weens ʼn loonstaking.
EMPD-lede veroorsaak tans reuse ontwrigting op talle hoofroetes, onder meer die R21-suid na die OR Tambo-lughawe.
Die lede voer aan hulle is ontevrede oor salarisaanpassings, oortyd wat beperk word en onbillike arbeidspraktyke.
Volgens die Wet op Arbeidsverhoudinge mag metropolisielede nie aan stakings deelneem en dienslewering belemmer nie.
Staatsvoertuie mag uitsluitlik aangewend word vir verkeersveiligheid en die toepassing van wet en orde.
Die munisipale bywet oor die metropolisie stel dit duidelik dat dit die EMPD se rol is om munisipale infrastruktuur en inwoners te beskerm en te beveilig. Hier gebeur die teenoorgestelde.
Die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, me. Sizakele Masuku, asook die burgemeester van die Ekurhuleni-metroraad, mnr. Nkosindiphile Xhakaza, sal dissiplinêr teen die lede moet optree weens hul aksies wat nie strook met hul amptelike pligte nie.
Om onskuldige mense te verontrief is nie die manier om ʼn loongeskil op te los nie.


