Inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se munisipale rekeningprobleme kon nie gister tydens ʼn gesamentlike vergadering van die korporatiewe-ondersteuningsdienste- en finansieskomitees bespreek word nie weens ʼn gebrek aan ʼn kworum.
Raadslede het bloot nie opgedaag vir dié vergadering nie al word inwoners die afgelope jaar reeds geteister met buitengewone hoё diensterekeninge.
Die burgemeesterskomiteelid vir finansies, mnr. Bernard Molefe, het in Februarie erken dat baie rekeninge foutief is en het ʼn regstelling belowe. Hy het die probleme toegeskryf aan die oorskakeling van konvensionele- na digitale meters.
Alhoewel baie van die rekeninge reeds reggestel is, ontvang die VF Plus steeds klagtes vanaf inwoners oor hul jongste rekeninge.
Die vergadering van gister was ʼn ideale geleentheid om hierdie kwessie aan te spreek en die munisipaliteit verder onder druk te plaas om rekeninge reg te stel.
Dit is uiters onaanvaarbaar dat raadslede nie hul verpligtinge nakom en inwoners se belange eerste stel nie.
Die VF Plus het reeds Molefe gevra om dringend ʼn volgende vergadering te belê om met die kwessie te handel.


