Die VF Plus is verheug om te kan aankondig dat die Transnet-pensioenarisse nog ‘n ronde in die hof gewen het in hul stryd om menswaardige pensioenvoordele, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Vervoer.
Transnet en die twee pensioenfondse het verlof om appèl gevra by die Noord-Gautengse hooggeregshof teen die klasaksie-hofbevel wat in Julie in die guns van die pensioenarisse gegee is.
Adv. Alberts sê regter Ephraim Makgoba het vandag die aansoek afgewys. Hy het aangedui dat die punte van appèl wat Transnet geopper het, eintlik eers aangehoor moet word wanneer die saak op meriete gehanteer word.
“Regter Makgoba het dit duidelik gestel dat daar volgens hom geen gronde is vir appèl nie en hy het dit beaam deur ‘n kostebevel te gee teen Transnet en die pensioenfondse,” sê adv. Alberts.
“Die VF Plus wil die pensioenarisse geluk wens met nog ‘n groot oorwinning in die hof en doen ‘n beroep op Transnet om finaal hierdie saak te skik ten einde die pensioenarisse ‘n onmiddellike menswaardige bestaan te gee.
“Die VF Plus gaan deur die stel van parlementêre vrae aan die minister van Vervoer vra of Transnet nou bereid sal wees om te skik,” sê adv. Alberts.
Kontaknommer: 082 391 3117 / 083 419 5403