fbpx
Vryheidsfront Plus

Transitorooftogte in Mpumalanga buite beheer weens polisie se tekort aan mannekrag en hulpbronne

Die onlangse vlaag van gewelddadige transitorooftogte in Mpumalanga kan toegeskryf word aan die polisie se tekort aan menslike hulpbronne en voertuie in dié provinsie.

Tydens die jongste voorval hierdie week buite Hazyview, is 'n veiligheidswag doodgeskiet en nog twee beseer.

In Desember 2022 is twee veiligheidswagte ook tydens 'n transitorooftog buite Hazyview gewond. In Oktober 2022 was daar 'n rooftog in Barberton, in September een in Bosbokrand en in Augustus een in Hendrina.

'n Kundige in dié bedryf het aan die VF Plus bevestig dat transitorooftogte soos 'n kanker is wat nie weggaan nie, en dat bogenoemde voorvalle net die oortjies van die seekoei is.

Hy het sy kommer uitgespreek oor die gepaardgaande geweld en dat meeste van die rooftogte op toerismeroetes plaasvind.

Die VF Plus spreek al sedert 2021 sy kommer uit oor die gebrek aan kritieke polisie-hulpbronne soos voertuie en mannekrag.

Luidens die polisie se 2020/21-jaarverslag het Mpumalanga se polisiediens slegs 9 516 personeellede, wat maar 52.5% is van die hoeveelheid wat benodig word.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Vusi Shongwe, het verlede jaar aan die VF Plus bevestig dat 'n begroting van R99 miljoen vir nuwe polisievoertuie vir die 2022/23-finansiële jaar uiteindelik goedgekeur is.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het ook al sy kommer uitgespreek daaroor dat hierdie rooftogte 'n waarskynlike toename in valutahanteringskoste veroorsaak.

Dit is weens die vervanging van toerusting en voertuie en hoër versekeringspremies. Dit is dus weer die ekonomie en die private sektor wat hieronder ly.

Die VF Plus het vandag weer 'n skrywe aan mnr. Shongwe gerig waarin daar gevra word wat sy planne is om hierdie toenemende transitorooftogte te bekamp.

Die VF Plus het ook insette gegee soos intelligensie-insameling, bekamping en vinnige-reaksie-benadering, opsporing en kommunikasie en skakeling.

Samewerking tussen die polisie en die private sekerheidsbedryf is ook van uiterste belang.

Die VF Plus is van mening dat indien die polisie in Mpumalanga voortbou op groter sigbaarheid, behoorlike opleiding van lede, die beskikbaarheid van voertuie, ammunisie en vuurwapens, die misdaadsyfer in die provinsie kan daal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.