Die sogenaamde ‘Super Sewe-minderheidsgroep’, wat bestaan die AIC, ATM, COPE, ICM, UDM, NFP en PAC, tesame met die ANC en EFF, het gister doelbewus die raadsvergadering van die Ekurhuleni-metroraad ontwrig en sodoende dienslewering erg benadeel.
Chaos het ontstaan ná ‘n dringende mosie van die DA dat die aansuiweringsbegroting eerste op die agenda geplaas word.
Die twee mosies van wantroue teen die speaker, Raymond Dlamini, en die hoofsweep, Kentha Shandu, sou daarna behandel word.
Die doel om die aansuiweringsbegroting vroeër te behandel, was om die item af te handel sodat dienslewering kan begin.
Dit is jammer dat die ANC, EFF en die sewe minderheidspartye nie die dringendheid van die saak kon insien nie. Hulle tree net op in eie belang en nie in dié van die inwoners van Ekurhuleni nie.
Ekurhuleni sou gister die aansuiweringsbegroting bespreek om die operasionele begroting met R36 931 470 miljoen aan te pas tot R2,37 miljard.
Die totale energiebegroting sou ook van R17 651 309 275 miljard tot R18 520 074 790 miljard aangepas word.
Die afdelings wat die meeste uit die aansuiweringsbegroting sou baat vind, is vullisverwydering, die herstel van slaggate, straatligte en die skoonmaak van parke.
Die VF Plus sal as deel van die koalisieregering van Ekurhuleni alles in sy vermoë doen om die ANC se vernietigingswerk die afgelope jare ongedaan te maak.