Die ANC se onvermoë om die Tokologo-plaaslike regering (Boshof, Dealesville en Hertzogville) te regeer, het tot onnodige skade van miljoene rande aan die boeregemeenskap in die omgewing gelei.
Ontevrede inwoners van Tokologo het uit protes ‘n watertenk aan die brand gesteek, waarna duisende hektaar weens wegholveldbrande verwoes is.
Kommersiële- sowel as opkomende boere in die betrokke distrik, het voor die brande reeds grootskaalse verliese gely weens die meerjarige droogte, sowel as die huidige swak ekonomiese klimaat. Hierdie boere kan nie self bekostig om sonder enige regeringshulp te herstel van die miljoene rand se skade weens die brande nie.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, Thembeni Nxangisa, versoek dat ‘n volledige assessering so gou moontlik gedoen word om die omvang van die skade te bepaal en dat die geraakte gebied tot rampgebied verklaar word.
Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van nege verdagtes in verband met die brandstigting en eis dat die tiende verdagte wat nog op vrye voet is, so spoedig moontlik aangekeer word.
Die skade wat die boeregemeenskap ly, is weens die mislukte ANC-regering en gefaalde ingrypings van die provinsiale regering in die betrokke munisipaliteit. Dit sal daarom gepas wees dat amptenare wat tot inwoners se ontevredenheid bygedra het, ook aan die pen moet ry.
Die VF Plus eis dat die provinsiale departement van samewerkende regering dringend by Tokologo ingryp om die algehele gebrek aan dienslewering te beredder om enige verdere protesaksie hok te slaan.
Die VF Plus het die saak verder gevoer deur ook ‘n skrywe te rig aan die minister van landbou, Thoko Didiza, om finansiële bystand aan die landbougemeenskap te voorsien. Hierdie skade is die direkte skuld van swak regering en dit is nie aanvaarbaar dat boere self of hul versekering daarvoor moet pa staan nie.
Navrae: 083 743 2042