Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Toestand van gesondheidsorg in die Vrystaat is krimineel van aard

Mediese personeel gebruik handskoene as toernikette, matrasbedekkers word gebruik as doeke en lêerplakkers as pleisters omdat daar net eenvoudig nie voorraad van hierdie basiese benodighede in staatshospitale is nie. Die tanheelkundekliniek by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein wag al sedert 2015 vir basiese voorraad vir tandvulses. Voorts was daar gedurende die eerste gedeelte van 2017 meer sterftes in die obstetrie en ginekologie-departement van Pelonomi as wat daar in die hele 2016 in dieselfde departement was.

Die lyding van pasiënte in die openbare gesondheidsektor is nimmereindigend, het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, vandag in ‘n debat oor die provinsiale gesondheidsdepartement in die Wetgewer gesê.

Wessels het hardwerkende dokters en mediese personeel wat hul uiterste bes doen om die lyding van pasiënte in staatshospitale en –klinieke te verlig, ten spyte van reuse hulpbron-tekorte en gebrek aan ondersteuning, bedank. Hy het egter sy kommer oor mediese personeel en pasiënte se veiligheid by hierdie staatsinstansies uitgespreek en die feit dat die LUR, mnr. Butana Komphela dit ook as ‘n krisis bestempel het en onderneem het om dit aan te spreek, verwelkom.

Hy het bemerk dat terwyl hospitale se infrastruktuur in ‘n jammerlike toestand verkeer, hulpbron-tekorte seëvier, daar ‘n ongekende personeel- en medisyne-tekort is en die voorgestelde Nasionale Gesondheidsorgversekeringsfonds nooit sal werk nie.

“Vir so ‘n fonds om te slaag moet die openbare gesondheidsorginfrastruktuur van hoogstande gehalte en funksionaliteit wees. Die versekeringsfonds kan ook nie ingestel word om fondse te genereer nie, dit sal net meer druk op ‘n reeds mislukte stelsel plaas.

“Die regering moet hulle prioriteite ten opsigte van die inwoners van die Vrystaat se gesondheidsorg agtermekaar kry. Hospitale is nie die plek vir kaderontplooiings nie en korrupsie in hierdie sektor kan nie ongestraf gelaat word nie.

“Die oplossing vir hierdie krisis is korrekte prioriteite, sterk leierskap en beter bestuur. Wat is die nut van die Grondwet as ons mense se basiese reg tot gesondheidsorg so skaamteloos geskend word?

Die nalatigheid van die ANC met betrekking tot die stand van gesondheidsorg grens aan krimineel,” het Wessels gesê.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 072 997 8315

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.