Die toename in aanvalle op klein-sakeondernemers in Gauteng plaas nie net druk op die polisie nie, maar dwing klein-sakeondernemings op hul knieë wat baie noodsaak om hul deure te sluit.
Die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, het bekend gemaak dat gedurende April 2019 tot Desember 2020, ‘n totaal van 10 219 aanvalle, diefstalle en ander misdaad teen ondernemings in Gauteng aangemeld is.
Die Ekurhuleni-metro-omgewing is die swaarste getref met 3 486 sake gevolg deur Johannesburg met 3 186, Tshwane met 2 160, Sedibeng met 748 en die Wes-Rand met 639.
Ondernemings wat die meeste onder diefstal deurgeloop het, is spaza-, snoep- en vulstasie-winkels asook algemene handelaars.
Die meerderheid van snoepwinkel-eienaars dryf handel vanaf hul woonhuise en is afhanklik van kliënte wat in die omgewing woon en werk. Eienaars het in baie gevalle nie die nodige fondse om sekuriteitstelsels aan te skaf om hulle teen misdaad te beskerm nie.
Die polisie word tans verder belas met die uitvoering van die strenger Covid-19-regulasies en die taak word meestal op die skouers van die gemeenskappolisiëringforums en buurtwagte geplaas om strate te patrolleer.
Luidens ‘n verslag van Reuters (1 Junie) het die werkloosheidsyfer met 32,6% in die eerste kwartaal van 2021 gestyg en gryp mense na enigiets om finansieel te oorleef, selfs misdaad.
Die VF Plus in Gauteng het die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, versoek om skrywes aan alle polisiekantore te rig waarin stasiebevelvoerders aangemoedig word om sigbaarheidpolisiëring toe te pas en waar nodig te help om gemeenskappolisiëringforums op die been te bring.