Die Tshwane-metro moet daadwerklik optree om die Tjaart van Vuuren-munisipale swembad in Villieria so gou moontlik weer funksioneel en beskikbaar te maak.
Dié swembad is reeds drie weke lank gesluit wees die versuim van die metro se chloorverskaffer om die nodige chemikalieë te lewer.
Hierdie sluiting tref inwoners op die mees ongeleë tyd midde in die swemseisoen en tydens warm somertemperature.
Inwoners, veral kinders en gesinne, word ontneem van ’n veilige, bekostigbare plek om af te koel en te ontspan.
Skole in die omgewing, wat self nie oor swembaddens beskik nie, gebruik normaalweg hierdie fasiliteit vir swemoefening en sport. Die sluiting ontneem leerders van belangrike fisieke aktiwiteit en die gemeenskap van ’n kritieke openbare afkoelingsplek.
Die VF Plus wil beklemtoon dat die Tshwane-metro dringend verantwoordelikheid moet aanvaar vir die sluiting van die Tjaart van Vuuren-swembad. Die huidige verskaffer wat versuim het om chloor te lewer, moet aanspreeklik gehou word, terwyl ’n betroubare en bevoegde diensverskaffer onmiddellik aangestel behoort te word.
Inwoners verdien toegang tot hierdie noodsaaklike openbare gerief, veral tydens die huidige somerhitte.


