Die VF Plus raai inwoners van die Johannesburgse metro aan om rekord te hou van enige diensterekeningbetalings wat gemaak is aangesien die metro se rekening- en betalingstelsel sedert 2 Februarie van lyn af is.
Betalings wat inwoners en ondernemings sedert 19 Januarie gemaak het, weerspieël ook nie op rekeningstate of die e-Joburg-portaal nie.
Hierdie administratiewe chaos beklemtoon die metro se onvermoë om basiese dienste doeltreffend te bestuur.
Betalers wat bereid en in staat is om hul verpligtinge na te kom, word ironies genoeg gestraf deur die metro se eie stelselversaking.
Die VF Plus raai inwoners en ondernemings aan om hulself te beskerm deur deeglike rekords te hou van alle betalings sedert 19 Januarie, insluitend die bewys van mislukte transaksies en enige korrespondensie met die metro. Hierdie dokumentasie sal van kritieke belang wees indien die metro later probeer om boetes, rente of kredietbeheermaatreëls toe te pas weens die stelsel se foute.
Inwoners kan nie aanspreeklik gehou word vir sogenaamde wanbetaling wanneer die metro se stelsels nie funksioneer nie. Enige poging om verbruikers te penaliseer vir omstandighede buite hul beheer, sal onregverdig en moontlik onwettig wees.
Die VF Plus dring daarop aan dat die Johannesburg-metro volledig en deursigtig met inwoners kommunikeer oor die oorsaak van die stelsel se ineenstorting, ’n duidelike tydraamwerk verskaf vir herstel, en verduidelik hoe betalings wat sedert 19 Januarie gemaak is, gekrediteer sal word sodra die stelsel weer aanlyn is.
Totdat dit gebeur, behoort geen inwoner geïntimideer of met gevolge gedreig te word nie.
Die VF Plus sal die situasie noukeurig monitor en betalers se regte in die stadsraad kragtig verdedig.


