Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Theuns du Toit onskuldig aan crimen injuria en opsetlike saakbeskadiging

Een van die mees opspraakwekkende sake wat getuienis moes wees van ‘n diep gewortelde kultuur van rassisme aan die Universiteit van Stellenbosch (US), het daarop uitgeloop dat die beskuldigde onskuldig bevind is. Die VF Plus is bly dat hierdie poging om van een man ‘n sondebok te maak, nou besig is om dood te loop.

Die saak spruit voort uit ‘n voorval op 15 Mei 2022, toe Theuns du Toit in die vroeë oggendure op die besittings van ‘n koshuismaat, Babalwo Ndwayana, geürineer het. Daar is geen dispuut oor die voorval of die verwerplikheid daarvan nie. Ook Du Toit stem daarmee saam en het al verskeie male sy spyt oor die voorval uitgespreek.

Die dispuut is of die voorval die gevolg van rassisme was en meer spesifiek, of Du Toit beweer het dat dit “a white boys thing” was. Die US het baie gou opgetree en Du Toit is nie alleenlik uit die koshuis geskors nie, maar uit die universiteit as geheel. Sy appèl in die Wes-Kaapse Hooggeregshof het misluk, gedeeltelik omdat die tugkomitee wat hom verhoor het, nie ‘n geregshof is nie. Dit het dus nie dieselfde bewyslas nie.

Vervolgens is Du Toit in die Stellenbosch-landdroshof van crimen injuria en opsetlike saakbeskadiging aangekla. Aangesien hierdie saak wel in ‘n geregshof plaasgevind het, moes die getuienis teen Du Toit die keer ‘n veel strenger proses deurstaan – sonder sukses.

Intussen kon Du Toit sy studies met afstandsonderrig deur ‘n private universiteit voortsit. Terwyl die hele saga ‘n waarskuwing teen die moontlike gevolge van drankmisbruik is, kan Theuns du Toit sy lewe voortsit sonder die etiket van ‘n minagtende rassis om sy nek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.