Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mangaung-brandweerdienste blus nie VF Plus se kommer oor gereedheid

Die VF Plus is bekommerd oor die gereedheid van die Mangaung-metro se brandweerdienste vir die 2025-brandseisoen wat vroeg in Julie begin.

Die party is van mening dat daar onmiddellik aandag gegee word om die brandweer se gereedheid te verseker.

Tydens 2024 was daar ʼn kommerwekkende toename in brandverwante voorvalle in die metro wat die rooi ligte laat flikker:

• Die brand by die Nasionale Distrikshospitaal
• Die verwoestende brand in Lower Crossroads, waar meer as 400 inwoners haweloos gelaat is
• Die brand by ‘n herwinningsgerief in Manionweg in die sentrale sakekern
• Verskeie voorvalle langs die N1-hoofweg

Daarbenewens hou die gevaar van veldbrande gedurende hierdie tydperk ‘n beduidende risiko vir beide lewe en eiendom in oor die hele streek.

Die VF Plus het ’n dringende skrywe gerig waarin die uitvoerende burgemeester, mnr. Gregory Nthatisi, die stadsbestuurder, mnr. Sello More asook die departementshoof vir openbare veiligheid en sekuriteit, mnr. Israel Kgamanyane, versoek word om toe te sien dat die Mangaung-metro se brandweerdepartement ten volle toegerus en operasioneel is.

Daar is in dié skrywe spesifiek versoek dat:

• Alle brandweerwaens en ondersteuningsvoertuie in behoorlike werkende toestand is
• Alle brandweerstasies voldoende toegerus is
• Voldoende hoeveelhede brandstof van hoë gehalte volgens die SANS-standaard beskikbaar is vir alle eenhede;
• Behoorlik toegeruste voertuie wat in staat is om veldbrande te hanteer, ontplooi word
• Alle brandkrane regoor die metro getoets en bevestig word as funksioneel

Die Mangaung-brandweerdepartement is ook verantwoordelik vir take wat veel verder as die stadsgrense strek, insluitend die reaksie op padongelukke oor ‘n 100-kilometer-strook langs die N1 en noodsituasies by die Perseus-substasie in Dealesville. Dié substasie is ʼn kritieke knooppunt in Suid-Afrika se nasionale kragnetwerk.

Gegewe hierdie omvangryke verantwoordelikhede, is die versekering van die departement se volle operasionele vermoë nie net ‘n munisipale plig nie, maar ‘n saak van streeks- en nasionale belang.

Die kantoor van die uitvoerende burgemeester het ‘n dringende vergadering met die VF Plus geskeduleer om hierdie aangeleentheid verder te bespreek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.