Ná 31 jaart is daar nog geen einde in sig aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie en president Cyril Ramaphosa en die ANC kan steeds nie insien waarom ‘n party soos die VF Plus daarteen gekant is nie.
Die antwoord van president Cyril Ramaphosa vandag op ‘n vraag van die VF Plus oor ekonomiese groeiplanne onder die RNE asook oor die gevolge van SEB, het dit duidelik gemaak dat hy steeds dink die ANC is ‘n party met ‘n tweederde-meerderheid wat kan doen wat hy wil.
Dit sal moet verander, al moet die VF Plus die stryd daarteen alleen binne óf buite die regering van nasionale eenheid (RNE) voer. Dit is bykans sinneloos om van ekonomiese groei en werkskepping te praat terwyl SEB toegepas word.
Die rassebeleid van die ANC het gelei tot ‘n werkloosheidskoers van 32% met ‘n optimistiese groeiverwagting van 1,4% vir vanjaar, 1,6% vir aanstaande jaar en 1,8% vir 2027.
Hierteenoor het Zambië ‘n huidige groeikoers van 6,2% en selfs Zimbabwe spog met 6%.
Ná dekades onder ‘n ANC-regering het dit duidelik geraak dat SEB die deur oopmaak vir korrupsie en kaderverryking en lei tot verlaagde produktiwiteit en beleggingsverlies.
SEB se klem is op rasgegergronde kwotas ten koste van vaardigheid en ervaring wat produktiwiteit en innovasie vernietig. Suid-Afrika se verwoeste staatsinstelling, sy swak ekonomie en reuse werkloosheid is ‘n duidelike bewys hiervan.
Almal sien dit. Selfs die internasionale gemeenskap begin toenemend terugdeins van streng SEB-regulasies soos verpligte eienaar-aandeelskap en onteiening sonder vergoeding.
Net president Ramaphosa en die ANC sien dit glad nie raak nie.
Dit moet verander en gaan verander. Daar is te veel welmenende mense in Suid-Afrika wat wil sien dat die land werk en dat daar vir almal ‘n toekoms en kos op die tafel is.