“Die Vryheidsfront Plus gaan die minister van Finansies, mnr. Nhlanhla Nene, versoek dat die Tesourie eers Eskom se rekening moet vereffen van daardie stadsrade wat dit nie betaal nie, alvorens gelde aan die betrokke munisipaliteite oorbetaal word.
“Tesourie betaal jaarliks miljarde rande van die sentrale begroting oor aan munisipaliteite. Eskom het nou, by monde van hulle woordvoerder, Khulu Phasiwe, verklaar dat beurtkrag vanaf 5 Junie by twintig munisipaliteite gedurende spitstye toegepas sal word omdat hulle Eskom-rekening nie betaal word nie. Die beurtkrag sal op weeksdae van 06:00-10:00 en 17:00-21:00 en naweke van 07:00-10:00 en 17:00-20:00 wees.
“Dit sal onbillik wees teenoor verbruikers wat wel hulle elektrisiteitsrekeninge betaal, maar wat erge beurtkrag gaan ondervind weens swak administrasie van die munisipaliteit wat nie Eskom betaal nie. Indien Tesourie eers die Eskom-rekening betaal en die balans daarna aan die munisipaliteit, sal dit Eskom se probleme en munisipaliteite se skuld van R 4,6 miljard aan Eskom, help oplos en billik teenoor die verbruiker wees,” sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-parlementêre woordvoerder vir plaaslike regering.
“Daar moet ook sterk opgetree word teen munisipaliteite wat hulle dienstegelde vir water en elektrisiteit verkeerdelik vir ander betalings gebruik. Verbruikers betaal vir die elektrisiteit en water, maar sommige munisipaliteite gebruik daardie gelde om salarisse te betaal. Dit is onaanvaarbaar en moet gestaak word,” het Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403
NOTA:
Die twintig munisipaliteite wat geraak word, is soos volg:
Maluti-a-Phofung (Phuthaditjhaba)
Matjhabeng (Welkom)
Emalahleni (Witbank)
Ngwathe (Parys)
Thaba Chweu (Lydenburg en Graskop)
Lekwa (Standerton)
Govan Mbeki (Secunda, Evander en Bethal)
Matlosana (Klerksdorp, Orkney en Stilfontein)
Naledi (Vryburg)
Thabazimbi (Thabazimbi)
Msukaligwa (Ermelo)
Lichtenburg (Lichtenburg)
Nala (Bothaville en Wesselsbron)
Makana (Grahamstad)
Madibeng (Brits)
Randfontein (Randfontein)
Dihlabeng (Bethlehem en Clarens)
Nketoana (Reitz)
Nama Khoi (Springbok)
Westonaria (Westonaria)