Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tender-ongerymdhede, swak bestuur in KwaZulu-Natal en Oos-Kaap ná vloedramp – OG

Die ouditeur-generaal (OG) maak in ‘n verslag skokkende bevindings oor die ANC-regering se hantering van bystand aan vloedslagoffers en die besteding van fondse in KwaZulu-Natal en die Oos Kaap.

Dié bevindings is vandag in ‘n verslag aan die parlementêre ad-hoc-komitee oor vloede, rampverligting en herstel bekend gemaak.

Die OG het onder meer bevind dat daar onreëlmatighede in die verkrygingsprosesse was en dat die voorgeskrewe prosesse nie behoorlik gevolg is nie.

In hierdie eerste tussentydse verslag word ook uitgewys dat die regering nie voorbereid was om met ‘n rampsituasie te handel nie.

Die swak onderhoud van watertenkwaens het byvoorbeeld daartoe gelei dat inwoners vir drie dae en langer ná die vloede nie toegang tot skoon water gehad het nie. Dit het ernstige gesondheidsgevare veroorsaak.

Daar is ook swak beheer gehou oor kontrakteurs wat aangestel is om die staat se dienslewering aan te vul.

Slegs 254 tydelike behuisingseenhede is in die afgelope drie maande opgerig, terwyl bykans 5 000 sulke eenhede benodig word.

Die mikpunt om teen 31 Julie 1 810 wooneenhede op te rig, is nie naastenby bereik nie.

Boonop was ál dertig wooneenhede wat deur die OG as steekproef vir die oudit geïnspekteer is, defektief weens swak vakmanskap. Muurpanele is nie behoorlik geïnstalleer nie en byna die helfte van die eenhede het nie binnedeure nie.

Die OG het ook bevind dat daar in die toekenning van die tenders geen voorsiening gemaak is vir die prestasie-evaluering en die bestuur van kontrakteurs nie.

Die stadige tempo van die regering se reaksie op die vloedramp blyk duidelik uit die feit dat slegs R125 miljoen uit ‘n begrote R2 miljard tot op hede aan rampverligting bestee is.

Die OG se bevinding dat hierdie swak regeringsprestasie onder meer aan ‘n gebrek aan vermoë toegeskryf kan word, spreek boekdele.

Dit is duidelik uit die verslag dat Suid-Afrika se inwoners onder ‘n ANC-regering sal aanhou ly weens swak bestuur, korrupsie en kaderontplooiing, selfs in ramptoestande waar die nood van inwoners die hoogste prioriteit moet geniet.

Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.