Dit is onaanvaarbaar dat uit 33 535 polisielede in Gauteng, slegs 61% gedurende die 2019/20-finansiële jaar bevoeg was om ‘n vuurwapen te gebruik.
Dit is onrusbarend omdat polisielede ten volle toegerus moet wees om wet en orde in die provinsie te handhaaf.
Deur nie ‘n vuurwapen na behore te kan hanteer nie, stel ‘n polisielid nie net sy eie lewe in gevaar nie, maar ook dié van die gemeenskap.
Die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 (Wet 60 van 2000) verplig polisielede om elke vyf jaar ‘n vuurwapen-bevoegdheidsertifikaat in te dien. Indien die lid nalaat om ‘n sertifikaat in te dien, word hy/sy verplig om kantoorwerk te doen, maar in sekere gevalle word ‘n direktief deur die stasiebevelvoerder uitgereik wat die betrokke lid vrywaar.
Die VF Plus gaan die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, versoek om ‘n behoorlike ondersoek te doen na die oorsaak van die groot aantal polisielede wat onbevoeg is om ‘n vuurwapen te hanteer.
Tans is daar een polisielid vir elke 383 landsburgers beskikbaar waar die internasionale syfer een vir elke 250 is.
Die Gautengse polisiediens kan nie toelaat dat polisielede, wat deur versuim onbevoeg is om ‘n vuurwapen te gebruik, kantoorwerk doen terwyl daar ‘n groot behoefte aan beter polisiëring is om die publiek teen misdaad te beskerm nie.