Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga-provinsiale rede: Net lippetaal en leë beloftes van werkskepping en infrastruktuurontwikkeling

(Debat oor Mpumalanga-provinsiale rede)

Die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, se provinsiale rede is meestal ‘n herhaling van planne en projekte wat reeds in vorige provinsiale redes aangekondig is.

Ten spyte van 'n historiese herhaling van swak dienslewering en onverantwoordelikheid teenoor die belastingbetaler, word die Covid-19-pandemie gerieflikheidshalwe herhaaldelik as die sondebok vir alle mislukkings voorgehou.

Die premier moes eerder op die ineenstorting van plaaslike ANC-munisipaliteite gefokus het. Belastingbetalers is reeds huiwerig om tariewe te betaal vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie.

Korrupsie en opgeblase tenders seëvier en dit kan binnekort tot 'n belasting-boikotaksie lei. Dit is belangrik om te noem dat inwoners in ‘n sekere munisipaliteit reeds daarin geslaag het om die hof te oortuig dat hulle self sekere dienste kan oorneem.

Op plaaslike vlak is Mpumalanga se infrastruktuur in ‘n haglike toestand en sodra daar ‘n begrotingsoorskot is, word mislukte projekte befonds in plaas van om te fokus op die opgradering en herstel van paaie, rioolstelsels en ander gebrekkige infrastruktuur.

Dit sluit projekte soos die Donkerhoek-waterbottelering-aanleg in. Ten spyte van die miljoene rande wat daaraan bestee is, is nog nie 'n enkele bottel water vervaardig nie.

Dit is die VF Plus se mening dat om slegs hulp aan toerisme-ondernemings te bied wat aan die teikens van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en breëbasis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) voldoen, sal veroorsaak dat dié industrie in duie sal stort.

Honderde werknemers, wit en swart, sal op straat sit indien hul werkgewers nie by die R20 miljoen provinsiale hulpfonds baat vind nie.

Dit is 'n skreiende skande dat werknemers in die bedryf bloot as kollaterale skade beskou word deur die ANC om sy beleid van radikale ekonomiese transformasie te implementeer om wit ondernemings te verdryf in ‘n poging om die gesig van toerisme in Mpumalanga te verander.

Daar kan sekerlik nie ‘n ander rede wees waarom die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme befondsing vir toerisme-ondernemings op grond van ras weerhou nie.

Die premier het bevestig dat landbou tydens die Covid-19-pandemie sterk bly staan het en vestig nou al haar hoop op dié bedryf om die provinsie te red.

Dit is daarom jammer dat niks gedoen is om die plaag van vars produkte-diefstal te bekamp wat die plaaslike ekonomie sowat R340 miljoen jaarliks kos nie. Dit is veral die neut-, sitrus-, hout- en avokado-produseerders wat die meeste verliese ly.

Die VF Plus vra daarom die premier om eerder die beleid van seëvierende nasies aan te neem, en nie dié van lande wat bevooroordeelde regulasies ingestel het nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.