Die swak bestuur van ANC-munisipaliteite en Sedibeng Water het vir die soveelste keer tot gevolg dat inwoners van die Matjhabeng- (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) en Nala-plaaslike munisipaliteite (Bothaville, Wesselsbron) nie water beskikbaar het nie.
Die sukkelende waterraad het versuim om betyds toe te sien dat chemikalieë aangekoop word en verskuif nou die blaam na die verskaffer om die gemeenskap se gemoedere te kalmeer.
Volgens Sedibeng is chemikalieë nou wel aangekoop, maar reservoirs sal eers opgevul moet word om deurlopende watertoevoer te verseker. Intussen is die vooruitsig dat inwoners se krane vir die naweek leeg sal wees.
Hierdie is die soveelste krisis wat Matjhabeng en Nala ervaar as gevolg van Sedibeng se onvermoë om aan inwoners en munisipaliteite water te verskaf.
Beide die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, én Sedibeng het al toegegee dat Sedibeng effektiewelik bankrot is.
Munisipaliteite is self aandadig hieraan weens die feit dat rekeninge aan Sedibeng nie betaal word nie. Betalende inwoners is egter keer op keer die slagoffers van dié bose kringloop.
Die VF Plus sal die saak in die parlement aanspreek en eis dat die regering in Sedibeng Water ingryp en sy plan met die entiteit bekend maak.
Sedibeng Water verskaf water aan munisipaliteite in drie provinsies en daarom moet die finansiële volhoubaarheid van die entiteit prioriteit geniet.
Die ANC is nie in staat om te regeer nie en moet by die stembus verwyder word in die komende plaaslike verkiesing.
Navrae: 072 382 3722