(Debat in die parlement oor die 25ste herdenking van die Grondwet)
‘n Grondwet stel die raamwerk en reëls waarbinne ’n grondwetlike bestel funksioneer. In Suid-Afrika se geval is daar vele lofsange oor sy Grondwet, selfs dat dit die beste ter wêreld is. Die waarheid is egter dat dit gemeet moet word aan die ANC-regering se vergrype oor 25 jaar wat dit in die praktyk feitlik ’n waardelose dokument maak.
Al die probleme waarmee die land tans te kampe het, is veroorsaak deur die regering, en dit het gebeur binne die raamwerk en voorskrifte van die Grondwet.
Suid-Afrika se Grondwet is inderwaarheid twee dokumente in een. Die een vervat die beste internasionale voorskrifte vir ’n goeie, moderne regering. Dit is die goeie deel.
By elk van hierdie voorskrifte is egter ’n kwalifikasie om die sogenaamde onreg van die verlede te verreken en reg te stel wat die goeie deel in alle opsigte troef. Dit is die ander deel.
Een voorbeeld is Artikel 217 wat handel oor verkryging. Dit bepaal onder meer dat verkryging op ’n eerlike, openlike, billike en kostedoeltreffende wyse moet geskied ingevolge die internasionaal aanvaarde norm. Natuurlik ook met die bepaling dat regstelling in ag geneem moet word.
Dit sluit die deur oop vir al die korrupsie en staatskaping oor 25 jaar in die land, soos nou voor die Zondo-kommissie blootgelê word.
Artikel 55 gaan oor die magte van die parlement en Artikel 92 behandel die verantwoordbaarheid van die uitvoerende gesag en kabinetslede onderling en kollektief teenoor die parlement. Dit laat die vraag hoeveel ministers van die regerende party oor 25 jaar self vrywillig bedank het omdat hulle verantwoordelikheid aanvaar het vir ongerymdhede.
Die antwoord is nul. Nie een nie.
Onteiening sonder vergoeding is nou ter sake. Overgezet zynde die konfiskering van eiendom. Daar moet geen illusie oor wees dat die eiendom van witmense hier ter sprake is nie. Nieteenstaande die grondliggende bepalings in die Grondwet oor die oppergesag van die Grondwet en die reg.
Daar is nie een ander land ter wêreld met ’n moderne Grondwet wat voorsiening maak vir die onteiening van ’n sekere deel van sy bevolking se eiendom sonder vergoeding op grond van ras nie.
Die Grondwet is veronderstel om Suid-Afrikaners te verenig. Dit gebeur nie. Ware demokrasie beteken nie net die reg om te stem nie, maar juis hoe die regte van minderhede uitgebou en beskerm word.
Ná 25 jaar kan daar nie sprake wees van ’n viering van Suid-Afrika se Grondwet nie. Die ANC se korrupsie, onbevoegdheid en onderdrukking van minderhede binne die raamwerk van die land se Grondwet het dit onmoontlik gemaak.
Dit sal onvermydelik bydra tot die val van die ANC as regering. Nie dalk nie, maar wanneer. Daarteen kan die Grondwet hom nie beskerm nie.