fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun nie Tshwane-metroraad se begroting aangesien dit tot nadeel van inwoners is

Die VF Plus het teen die begroting van die Tshwane-metroraad vir die 2021/22-finansiële jaar gestem aangesien dit nie die moeilike finansiële omstandighede van inwoners genoegsaam in ag neem nie en reeds sukkelende inwoners net verder gaan verarm.

Die VF Plus het tydens die begrotingsproses insette gelewer en voorstelle gemaak om tariefverhogings te beperk en beter prioriteite daar te stel.

Die begroting wat die DA, ANC en EFF goedgekeur het, gaan nie die metro se ekonomie stimuleer deur beleggers te lok nie en sal die metro se ekonomie eerder net verder laat verswak deur die toenemende sluiting of onttrekking van ondernemings uit die metro weens onrealistiese tariefverhogings.

‘n Verhoging van 14.59% in elektrisiteitstariewe is onverdedigbaar en onrealisties. Baie inwoners kan dit nie bekostig nie en dit sal grootmaat-verbruikers kniehalter. Die skuld vir die drastiese verhoging kan ook nie net voor die deur van Eskom gelê word nie.

Daar sal geen verhoging in elektrisiteitstariewe nodig wees indien die 20% elektrisiteit wat jaarliks verlore gaan weens netwerkprobleme en onwettige aansluitings, betyds herstel en ontkoppel word nie.

‘n Styging van 2% in eiendomsbelasting, bereken volgens die waardasierol wat verlede jaar voor die Covid-19-pandemie aanvaar is, gaan eiendom onbekostigbaar maak vir baie inwoners. Dit kan veroorsaak dat die middelklas, wat die grootste bydraer is tot munisipale belastings, hul eiendom moet verkoop om kop bo water te hou en wat tot ‘n verlies aan inkomste vir die metro sal lei.

‘n Geen verhoging in eiendomsbelasting sou meer sin gemaak het in die moeilike ekonomiese tyd waarin inwoners en ondernemings reeds sukkel om kop bo water te hou.

Daar moet ook strenger opgetree word teen amptenare, raadslede en regeringsdepartemente wat hulle skuldig maak aan die nie-betaling van dienste en die metro meer as R1 miljard skuld.

Die metro moet ook sy beleggingseiendomme effektief aanwend om ‘n inkomste te genereer.

Daar moet ‘n klemverskuiwing wees om ook aan goeie en getroue belastingbetalers afslag toe te staan op tariewe en nie net aan die wanbetalers nie. Dit moet ook geld vir inwoners wat van konvensionele meters skuif na voorafbetaalmeters.

Die tariewe kan as volg opgesom word:

• Eiendomsbelasting verhoog met 2% vir alle kategorieë.
• Vullisverwydering verhoog met 4.1%.
• Elektriesiteittariewe verhoog met 14.59%.
• Watertariewe verhoog met 8%.
• Sanitasietariewe verhoog met 10%.

Die wêreld het met die Covid-19-pandemie verander en dit het tyd geword vir die metro om ‘n benadering te volg wat sy verbruikers meer in ag sal neem.

Die inwoners van die Tshwane-metroraad het lank getrou hul belastings en tariewe betaal, maar sal nie die buitensporige tariefverhogings kan absorbeer nie

Navrae: 072 815 4053

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.