Gegewe die beskikbaarheid van water in eThekwini (Durban en omgewing), kan inwoners met rede ontevrede voel oor die verhoging van 8,5% in die metro se watertariewe in sy 2021/22-begroting.
Die verhoging is veel hoër as in sommige waterskaars-metro’s terwyl die stad se hoofwaterbron, die Midmardam, oorloop.
Afgesien van die probleme in die Umgeni-Waterraad, meen die VF Plus die rede vir hierdie onaanvaarbare watertariefverhoging van dubbel die inflasiekoers, is die toenemende onvermoë van die stad om sy infrastruktuur te bestuur.
Ondanks jaarlikse beloftes en ondernemings om maatreëls in plek te stel om infrastruktuur op te knap om waterverlies te beperk, word niks daaraan gedoen nie. Waterverlies weens verouderde pype en diefstal beloop reeds meer as 40% van die metro se totale waterverbruik.
Hierdie persentasie is 15% hoër as die internasionaal aanvaarde koers van ‘n 25%-waterverlies in metro's. Dit is dus duidelik dat daar van inwoners verwag word om te betaal vir die onbevoegdheid van die stad se ANC-regeerders.
Gegewe die swak landsekonomie en die gevolge van die Covid-19-inperking, maak hierdie verhoging 'n bespotting van die strewe van eThekwini om Afrika se mees bekostigbare en leefbare stad te word.