Die jongste plaasaanval in Mpumalanga beklemtoon die noodsaak om ‘n vuurwapen te besit vir selfbeskerming asook meer effektiewe landelike beveiliging.
Mnr. Dionne van Rensburg is verlede Donderdag op sy kleinhoewe naby Naauwpoort buite Witbank aangeval.
Vier persone het Van Rensburg oorval, gemartel en gewurg terwyl hulle op geld aangedring het.
Die verdagtes het uiteindelik met goedere ter waarde van sowat R200 000 gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens, wat dit ten doel het om die besit van ‘n vuurwapen vir selfbeskerming te skrap, is nie net onlogies nie, maar sal lei tot meer plaasaanvalle en moord op weerlose burgers.
Indien die staat jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met alle moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ‘n vuurwapen ter selfverdediging.
Dit is ook ‘n gemeenregtelike reg wat elkeen het.
Die VF Plus veroordeel alle moord en geweld in Suid-Afrika, maar veral geweld op die landbougemeenskap vanweë die weerloosheid van die landelike gemeenskap. Landelike gemeenskappe is afgeleë en moet met tye vir etlike ure wag vir hulp vanuit stedelike gebiede.
Die VF Plus het nog altyd erns gemaak met plaasaanvalle en beywer hom daarvoor om volgehoue druk op die regering te plaas om plaasaanvalle en -moord tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar.
Die VF Plus het ook vrae gerig aan mnr. Vusi Shongwe, Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, oor die provinsie se inwerkingstelling van die landelike veiligheidsplan. Dié plan beteken niks sonder behoorlike uitvoering nie.
Die VF Plus spreek sy simpatie uit teenoor die slagoffer en wens hom ‘n spoedige herstel toe.
Die party sal die nodige hulp verleen om seker te maak dat die skuldiges opgespoor en vervolg word.