fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus neem sterk standpunt in teen onwettige goedkeuring van Matlosana-begroting

Die VF Plus het vandag tydens 'n raadsitting van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit sterk kapsie gemaak teen die speaker, Washington Ntozini, se beslissing dat die jaarlikse begroting wettiglik goedgekeur is.

Ntozini het die beslissing gemaak nadat die VF Plus hom daarop gewys het dat die land se Grondwet bepaal dat munisipale begrotings deur `n meerderheid raadslede in die munisipaliteit goedgekeur moet word.

Met die stemming in die raad het slegs 38 lede vir die goedkeuring gestem, terwyl `n minimum van 40 lede uit die 77 raadslede in Matlosana ingevolge Artikel 160 (3)a van die Grondwet benodig is.

Dit is skreiend dat wetgewing en prosedures weens skynbare onkundigheid in ANC-geledere by herhaling verontagsaam word en onnodige risiko’s sodoende vir die munisipaliteit geskep word.

Die VF Plus sal `n dringende skrywe aan die speaker rig en eis dat hy sy beslissing tersyde stel sodat die begroting op 'n wettige wyse behandel kan word. Sy weiering om aan so 'n eis gehoor te gee, kan verreikende gevolge vir die munisipaliteit inhou.

Indien die begroting nie voor of op 1 Julie op 'n wettige wyse afgehandel is nie, kan die raad selfs volgens wet ontbind.

Dit is `n skande dat die ANC in Matlosana uit onkunde op so `n roekelose wyse omgaan met die Grondwet en wetgewing, asook die bestuur van die munisipaliteit – sonder inagneming van die gevolge van hul optrede vir die gemeenskappe van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein.

Die Matlosana-gemeenskap verdien professionele munisipale dienste en `n munisipale bestuur wat werklik hul belange op die hart dra.

Die VF Plus sal voortgaan om ANC-beheerde munisipaliteite verantwoordbaar te hou om te verseker dat hy ten volle aanspreeklik gehou word vir sy skynbaar doelbewuste ondermyning van die Grondwet en die demokrasie.

Kiesers moet in die komende verkiesing opstaan, saamstaan en `n sterk boodskap met hul stem stuur dat ANC-magsvergrype en wanbestuur in munisipale regering nie langer geduld sal word nie en dat professionaliteit deur kundiges in regering herstel moet word.

Navrae: 082 929 4542

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.