Meer as twee derdes van Suid-Afrikaners van alle rasse is van mening dat kinders die reg het om in hul moedertaal onderrig te word blyk uit ‘n meningspeiling van die navorsingsinstelling Ipsos-Markinor wat pas bekend gemaak is.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër- en basiese onderwys, sê die opname staaf wat die VF plus nog deurgaans sê oor die belangrikheid van onderrig in moedertaal op hoër- en basiese onderwysvlakke.
Hy sê dit is duidelik dat die regering in die verkeerde rigting beweeg deur juis weg te beweeg van dit wat die meeste Suid-Afrikaners wil hê.
Die verklaring van Ipsos-Markinor hieroor lui:
“Meer as twee derdes van alle Suid-Afrikaners is van mening dat hulle kinders die reg het om opgevoed te word in hul eie taal. Daar is ooreenstemmigheid hieroor van regoor die onderskeie taalgroepe in die land.
“Die vraag hierna is die grootste onder Engels- en Afrikaanssprekendes, met ander Afrika-tale wat kort hierop volg.”
Volgens adv. Alberts is die oproep van lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys, die institusionele studenteraad en Nehawu daarom verkeerd as hulle sê dat onderrig by die Noordwes-Universiteit in Engels moet plaasvind en dat in Afrikaans getolk moet word in alle klasse.
“Dit druis in teen die internasionaal-erkende reg van moedertaalonderrig op alle vlakke, en dit druis in teen wat ouers en leerlinge self wil hê in Suid-Afrika.
“Die antwoord lê by die skepping van meer skole, universiteite en ander hoër onderriginstellings wat leerders in hul moedertaal onderrig kan gee,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403