SA Toerisme (SAT) se volharding met sy plan om byna ‘n miljard rand te bestee aan ‘n borgskap vir ‘n buitelandse sokkerklub, die Britse Tottenham Hotspur, is verregaande.
Die feit dat die voorsitter van SAT, Thozamile Botha, dit onomwonde stel dat hulle voortgaan met die proses ten spyte van wye teenkanting, selfs van die presidensie, spreek van matelose arrogansie.
Suid-Afrikaners van regoor die spektrum het die afgelope twee weke luidkeels te kenne gegee dat hulle siek en sat is vir SAT se planne om hul swaar verdiende belastinggeld aan ‘n sinnelose borgskap te bestee.
Intussen het dit aan die lig gekom dat soortgelyke borgooreenkomste wat dié klub met onder meer die motorhandelaar Cinch aangegaan het, R60 miljoen per jaar goedkoper kos as die beraamde koste vir die ooreenkoms met SAT.
Dit is ook bekend dat ‘n konsortium tans besig is om ‘n aanbod voor te berei om die klub te koop en die moontlikheid bestaan dus dat Tottenham Hotspur binnekort nuwe eienaars sal hê.
Om in hierdie omstandighede enigsins verder tyd, geld of energie aan die projek te bestee, is irrasioneel.
SAT se optrede wys dat hy skynbaar glo hy kan nie verantwoordbaar gehou word vir die roekelose besteding van belastinggeld nie.
Dit bevestig die VF Plus se standpunt dat die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu en haar ministerie, nie in staat is om enige beheer of oorsig uit te oefen oor die entiteite onder hul toesig nie.
Hierdie ministerie is oorbodig en behoort ontbind te word.
Die VF Plus sal in ‘n skrywe aan die minister van finansies, Enoch Godongwana, eis dat SAT beveel word om die borgskapproses te staak en om streng beheer oor enige projekbesteding van dié entiteit uit te oefen.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.