Die krisis oor watersuiwering- en voorsiening in Suid-Afrika stuur soos die Titanic op ’n rampspoedige botsing met ‘n ysberg af terwyl talle ongeregistreerde Kubaanse ingenieurs help om die skip se stuurwiel vas te hou.
Die land se huidige waterkrisis is opnuut onderstreep met die Blou- en Groen Druppel-verslae oor die stand van die land se water wat pas uitgereik is.
Tog word daar niks gedoen om die probleme, wat jare reeds goed gedokumenteer en bekend is, reg te stel nie.
Soos met alle probleme en verval in Suid-Afrika kan die oorsaak gevind word in die ANC se beleid van kaderontplooiing en die gevolge van onbevoegdheid, korrupsie en wanbestuur.
Die verslae, wat pas uitgereik is, bevind onder meer dat 41% van alle toesighouers en 40% van prosesbestuurders by suiweringsaanlegte ongekwalifiseerd is.
Talle persone in ander poste is aangestel op vlakke waarvoor hulle nie kwalifikasies het nie wat duidelik dui op bedrog. Ongeregistreerde ingenieurs is aangestel en gewone tegnici tree op as ingenieurs.
Talle ingenieurs, tegnici, tegnoloë en wetenskaplikes kan nie bewys lewer van hul kwalifikasies nie en daar is in baie gevalle ’n wanvoorstelling van kwalifikasies.
Nadat 37 Kubaanse ingenieurs in 2015 na Suid-Afrika gebring is, is nog 24 twee jaar gelede gebring. Volgens die regering is dit gedoen om die land se waterprobleme te help oplos.
Dit het duidelik nie die gewenste uitwerking nie en die laaste groep van 24 kos die belastingbetaler R64 miljoen oor drie jaar.
Intussen is daar volgens die SA Instituut vir Siviele Ingenieurs meer as ’n duisend plaaslike, geregistreerde siviele ingenieurs in Suid-Afrika werkloos.
Wat operasionele funksionaliteit aanbetref, is altesame 62% van alle watersuiweringsaanlegte in die land tans disfunksioneel en die koste net om dit tot ’n werkbare toestand te herstel, sal meer as R8 miljard beloop.
’n Skokkende 98% van alle owerhede in beheer van die aanlegte kan geen inligting oor die pypleiding van hul stelsels gee nie.
Dit is boonop net die punt van die ysberg soos wat die land se waterprobleme in die verslae uitgelig word.
Die Blou Druppel-verslag meet die stand van drinkwater-suiweringsaanlegte en die standaard van munisipaliteite se vermoë om drinkbare water te verskaf wat aan die nasionale gesondheidstandaarde voldoen.
Die Groen Druppel-verslag dui die toestand en funksionaliteit van munisipaliteite se afvalwater-suiweringsaanlegte aan en hoe skoon dit is voordat dit teruggevoer word in die natuurlike waterstelsel.
Die tegnologie om hieraan te voldoen deur water suksesvol suiwer genoeg te maak om te drink en om dit terug te laat in die omgewing, is ’n duur proses wat hoë vlakke van tegniese kundigheid vereis.
Dit vereis opgeleide personeel soos ingenieurs met hoë vlakke van vakkundige kennis, spesialis-aanlegoperateurs en gevorderde toerusting.
In 2016 reeds het die Waternavorsingskommissie swak en/of onvoldoende afvalwatersuiwering as een van die grootste oorsake van waterbesoedeling in Suid-Afrika uitgewys.
Dit hou direk verband met ‘n toenemende verontagsaming van nasionale waterwetgewing. Onkundigheid, onbevoegdheid en swak bestuur is toe reeds as van die hoofoorsake genoem.
Dit is nou duidelik dat niks intussen gedoen is of gedoen word om die krisis af te weer nie. Die situasie met die Kubaanse ingenieurs en die algemene eskalering van die waterkrisis dui tewens op die teendeel.
Dit raak al hoe duideliker dat die ANC-regering so gou moontlik vervang moet word om Suid-Afrika van ondergang te red. Hoe langer die regering aan bewind bly, hoe nader kom die ysberg.