Die VF Plus se waarskuwing dat Suid-Afrika se lidmaatskap van die Agoa-klub van lande wat handelsvoordele van Amerika ontvang, opgeskort kan word weens onteiening sonder vergoeding, is nou ‘n stap nader aan realiteit.
Die invloedryke internasionale dinkskrum, die Cato-Instituut, het versoek dat pres. Donald Trump van Amerika, Suid-Afrika se lidmaatskap onder die loep neem weens onteiening sonder vergoeding en die effek daarvan op minderhede.
Onteiening sonder vergoeding is nie toelaatbaar nie in terme van die vereistes van die Agoa-wetgewing. Die VF Plus het met die bekendstelling van sy “SlaanterugSA”-veldtog teen onteiening sonder vergoeding gewaarsku dat Suid-Afrika eindelik sy lidmaatskap en voordele in terme van Agoa kan verloor.
Dit is ook moontlik dat Amerika bestaande regulasies oor die beskerming van die belange van dié land kan gebruik om onmiddellike sanksies teen lede van die Suid-Afrikaanse regering persoonlik in te stel, of nog erger ekonomies-wye sanksies teen die land in sy geheel in te stel indien Amerika sou meen dat Amerikaanse bates in die gedrang kan kom.
Die nuwe Beleggingsbeskermingswet maak bloot voorsiening vir die beskerming van buitelandse beleggers aan die hand van Artikel 25 van die Grondwet.
Dit is die einste artikel waarvan die ANC aan die een kant glo onteiening sonder vergoeding kan reeds plaasvind en hy wil dit in die howe toets, en aan die ander kant wil die ANC dit wysig om onteiening sonder vergoeding sonder onduidelikheid moontlik te maak.
Die effek daarvan is dat buitelandse beleggers van Amerika in die toekoms ook alle bates kan verloor sonder vergoeding. Indien pres. Trump sy blik nou na Suid-Afrika draai, gaan die ANC met hoofbrekens van ‘n oneindige omvang sit wat die ekonomie kan vernietig.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216