President Cyril Ramaphosa sal nie regkry om almal ‘n rat voor die oë te draai oor presies wat onteiening sonder vergoeding is en wat die ANC-regering daarmee beoog nie.
Dit was die boodskap wat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, vandag in vraetyd in die parlement aan president Ramaphosa oorgedra het. Hier volg dr. Groenewald se volledige boodskap aan die president:
Ek wil aan president Ramaphosa sê ek verskil van sy siening oor onteiening sonder vergoeding. Onteiening sonder vergoeding gaan nie die grondhervormingsproses versnel soos hy voorgee nie.
Die president self sê beleggers wil sekerheid hê oor hul eiendom. Maar dit is nie net beleggers wat sekerheid wil hê nie. Die mense wat die hardste vra om sekerheid, is die grondeienaars van Suid-Afrika. Hulle wil weet wat met hul grond gaan gebeur.
Almal weet die president is ‘n goeie onderhandelaar. Net soos hy Roelf Meyer met sy onderhandelings-vermoëns gemesmeries het, neem ek aan het hy nou ook gedoen met sommige landbouleiers.
Ek het egter ook ‘n belangrike boodskap van ander boere aan die president. Dié boodskap is dat hulle nie vrywillig van hul grond sal afstand doen nie. Die president moet dit óók verreken in hierdie proses van onteiening sonder vergoeding.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216