Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bejaardes en inwoners eis optrede teen onbeheerde studentebehuising in Heidelberg

Die VF Plus het Woensdag ’n versoekskrif met honderde handtekeninge by die kantoor van die speaker van die Lesedi plaaslike munisipaliteit ingedien wat vra dat bestaande verordeninge in die studentebehuisingsgebied van Heidelberg toegepas en versterk word.

In Oktober verlede jaar het die munisipaliteit uitbreiding 5 vir studentebehuising goedgekeur sonder ’n openbare deelnameproses en sonder om verordeninge aan te pas vir die omvang van die projek.

Sedertdien het die VF Plus talle klagtes van inwoners ontvang.

Uitbreiding 5 bestaan uit woonhuise waarvan sowat 20% wettiglik in studentebehuising omskep is, terwyl nog 40% onwettig daarvoor gebruik word. Die res word steeds deur gesinne bewoon.

Die gebied grens direk aan die Suikerbos-aftreeoord, wat beteken dat bejaardes daagliks deur die betrokke woonbuurt moet beweeg.

Onwettige studentebehuising – waar huise onderverdeel en oorbevolk is – plaas ernstige druk op die bestaande infrastruktuur. Gereelde krag en wateronderbrekings, asook riool wat in strate vloei, is nou ’n werklikheid.

Die VF Plus beklemtoon dat die party nie teen tersiêre onderrig gekant is nie en Sedibeng-kollege reeds geloof het vir sy kwaliteit opleiding. Die probleem lê by die gebrek aan toepaslike behuising, onvoldoende infrastruktuur en die afwesigheid van streng verordeninge.

Die VF Plus wys die volgende kwessies uit:

• Studentebehuising oorlaai die water- , riool- en kragnetwerk; die munisipaliteit moet toesien dat kapasiteit voldoende is.
• Selfs waar erwe gesoneer is, moet die totale vloeroppervlak bepaal watter aantal studente toegelaat word.
• Geraasbesoedeling veroorsaak die grootste konflik; laatnagpartytjies en harde musiek versteur bejaardes en gesinne.
• Verhoogde verkeer lei tot ’n tekort aan straatparkering.

Die VF Plus het die speaker, Phindi Mpemvu, versoek om die saak dringend te hanteer en toepaslike verordeninge in plek te stel.

Die party sal die gebied deurlopend monitor en druk uitoefen om te verseker dat die studentebehuisingsgebied behoorlik gereguleer word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.