Die deurlopende pogings van rolspelers soos die VF Plus om die wêreld in te lig oor vergrype in Suid-Afrika, is klaarblyklik besig om vrugte af te werp.
Die VF Plus het reeds ‘n versoek tot die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika gerig om met sy saakgelastigde ‘n gesprek te voer oor die situasie in Suid-Afrika, en in besonder die sake wat Amerika se president, Donald Trump, nou aangeroer het, naamlik plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding.
Dit sluit aan by die VF Plus se deurlopende, jarelange bewusmakingsveldtog om die internasionale gemeenskap in te lig oor die vertrapping van minderheidsregte in Suid-Afrika, en die hoë voorkoms en brutaliteit van plaasaanvalle en -moorde.
Benewens die VF Plus se “Slaan Terug SA”-veldtog wat op 5 Maart afgeskop het juis vir die doel van internasionale bewusmaking, reis die leierskap van die party jaarliks na die buiteland om sy boodskap oor te dra.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het onder meer België vroeër vanjaar besoek en met onder andere Europese parlementslede vergader en die presidensie van UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organization) toegespreek.
'n Afvaardiging van die Duitse AfD (Alternative for Germany)-party, het die VF Plus se parlementêre koukus vroeër vanjaar besoek as feite-sending oor verskeie brandpunte soos onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde.
Die party is reeds in die proses om ‘n amptelike klag in te dien by die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie weens die ANC-regering se oortreding van artikel 17 van die VN se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte wat private eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.
Dr. Groenewald sê die VF Plus sal met ywer voortgaan om te sorg dat internasionale druk op die ANC geplaas word.
Hy sê dit is insiggewend dat die invloedryke internasionale dinkskrum, die Cato-Instituut, pres. Trump in die week reeds versoek het om Suid-Afrika se lidmaatskap van die Agoa-handelsooreenkoms onder die loep te neem weens onteiening sonder vergoeding en die effek daarvan op minderhede.
Die VF Plus sal seker maak dat Amerika ‘n volle en gebalanseerde prentjie kry oor wat in Suid-Afrika aangaan, en nie ‘n verdraaide en afgewaterde weergawe van die ANC nie.
Wat in Suid-Afrika gebeur, kom neer op ernstige menseregte-vergrype, en die wêreld moet dit hard en duidelik onder die ANC se aandag bring dat dit nie aanvaarbaar is nie.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216