Om ‘n vooruitstrewende Suid-Afrika te skep, moet daar wedersydse respek vir mekaar wees. Respek vir mekaar as individue, respek vir mekaar se verskille, respek vir mekaar se verskillende kulture, verskillende geskiedenis en verskillende tale.
‘n Gedeelte in die aanhef van Suid-Afrika se Grondwet stel dit baie duidelik: “Ons, die mense van Suid-Afrika… Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid…”
Ek wil dit duidelik aan die president (Cyril Ramaphosa) stel dat die VF Plus wil hande wil vat en bou aan ‘n beter toekoms vir almal, nie aan ‘n beter verlede nie. Soos dit in isiZoeloe lui: “Ha ghe si bhambisane. I sandla siya ghesana.”
Met dit gesê wil ek byvoeg ek is ‘n Afrikaner en ‘n kind van die grond van Afrika. Afrikaners en witmense wil bydra tot ‘n beter toekoms vir almal in die land. Ons kan help om ‘n beter land te bou, maar dan moet daar wedersydse respek vir mekaar wees.
Daar is tans ‘n aanslag op Afrikaans. In ons skole, en in ons universiteite. Dit ten spyte daarvan dat die Grondwet lui almal is geregtig op moedertaalonderrig.
Daar kan egter nie sprake van respek wees as Gauteng se LUR vir onderwys (Panyaza Lesufi), Afrikaans met ‘n rassekwas wil bykom asof Afrikaanse onderwys gelyk staan aan wit bevoorregting, of waar hy optree teen skole wat reeds veelrassig is nie.
Sestig persent van Afrikaanssprekendes is bruin mense. Dit skep nie wedersydse respek nie. Dit laat vrae ontstaan.
Die president het in sy staatsrede baie klem geplaas op werkskepping, in besonder vir die jeug. Hy het onder meer gesê: “Ons bou ‘n land waar ‘n persoon se vooruitsigte deur eie inisiatief en harde werk bepaal word, en nie volgens die kleur van hul vel, geboorteplek, geslag, taal of inkomste van hul ouers nie.” Ek stem daarmee saam.
Die realiteit is egter dat Regstellende Aksie (RA) en Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) jong wit mense ontneem van werk, beurse en geleenthede, weens die kleur van hul vel. Is dit regverdig dat ‘n jong man of vrou wat in 1994 of daarna gebore is in die nuwe bedeling benadeel moet word deur RA?
Ek is van mening dat daar ‘n afsnypunt hiervoor moet kom. Swart studente wat tans universiteitsgrade behaal, is meer as dubbel die getal wit studente. Indien ons wedersydse respek vir mekaar wil bevorder en die ekonomie wil laat groei, moet meriete die kriterium wees met aanstellings, en nie velkleur nie.
Wat grondonteiening sonder vergoeding aanbetref, wil ek aan die president sê die blote aanvaarding van die beginsel is negatief vir die ekonomie en voedselsekerheid.
Die vraag is wat die president met onteiening wil bereik. Indien dit bloot is om vir mense grond te gee, moet dit so gesê word. Want om net grond vir iemand te gee, maak die persoon nie outomaties ryk nie.
Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming erken dat 90% van die bestaande projekte om swart boere te vestig, misluk het. Daarbenewens wil 93% van alle suksesvolle eisers nie die grond hê nie, maar die geld.
Die VF Plus verwerp grondonteiening sonder vergoeding, want dit raak alle eiendomme, op ‘n plaas, ‘n dorp of in ‘n stad. Dit sal die ekonomie nadelig beïnvloed en potensiële beleggers afskrik om in Suid-Afrika te belê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216