Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Strafregtelike klagtes kom teen Mahlangu

Die VF Plus in Gauteng gaan voort om strafregtelike klagtes teen die Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, in te dien nadat die ombudsman vir gesondheid, prof. Malegapuru Makgoba, vandag sy verslag oor sterftes van pasiënte bekend gemaak het.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het gesê dat ongeag die aantal pasiënte wat in die ombudsman se verslag afgesterf het weens nalatigheid van die LUR en haar departement, was een sterfte reeds te veel en sal die LUR die verantwoordelikheid vir hierdie gebeure ten volle moet aanvaar en sal sy die volle gang van die gereg in die gesig staar.

“Daar bestaan geen twyfel dat die LUR deur die VF Plus strafregtelik aangekla gaan word nie. Die ombudsman se verslag handel wel net oor die afsterwe van die psigiatriese pasiënte, nadat hulle deur die LUR en haar departement vanaf Life Esidimeni-klinieke verskuif is na nie-regeringsorganisasies in die provinsie, maar die VF Plus se klagtes sal ook die onverklaarbare sterftes van pasiënte deur nalatigheid in Gauteng se staatshospitale insluit.”

Van Staden sê dat Mahlangu aangekla sal word van nalatigheid, strafbare manslag en waarskynlik moord (dolus eventualis). In laasgenoemde geval het die LUR heelwaarskynlik vermoed dat die psigiatriese pasiënte kan sterf by die nuwe “onbevoegde” organisasies maar het nog steeds voortgegaan met die uitplasing. Wat die ander pasiënte wat in hospitale weens nalatigheid gesterf het betref, het sy toegelaat dat behandeling voortgaan sonder dat die hospitale aan behoorlike standaarde voldoen. Die VF Plus wil verhoed dat die LUR hiermee wegkom deur net te bedank uit haar pos as LUR en wil eerder toesien dat sy die nodige straf kry vir haar opsetlike en nalatige dade.

“In hierdie geval sal ‘n afdanking deur die premier nie aanvaar word nie en so ook nie ‘n bedanking vanaf Mahlangu se kant nie. Sy sal strafregtelik vervolg word vir hierdie kriminele daad wat gepleeg is. Deur hierdie optrede stuur die VF Plus ‘n duidelike boodskap aan elke LUR in Gauteng om in hulle spore te trap en te sorg dat hul departemente met die nodige verantwoordbaarheid bestuur en beheer sal word.”

 

Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.