“Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein het grootliks daarin geslaag om aan die transformasie-eise van die ANC-regering te voldoen, sonder om sy unieke identiteit prys te gee,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-LP en woordvoerder vir kuns en kultuur gesê.
“Die transformasie-eise wat die ANC-regering aan kultuur-instellings stel, lei dikwels daartoe dat die instelling sy unieke karakter en historiese boodskap verloor. Dit is nie die geval met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein nie”, volgens Mulder.
Die parlementêre portefeuljekomitee vir kuns en kultuur het vandag die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein besoek. Die besoek was op uitnodiging van dr. Pieter Mulder wat lid is van die komitee. Dit vorm deel van die portefeuljekomitee se jaarlikse oorsigbesoeke.
“’n Besoek aan sulke instellings verseker dat parlementslede eerstehandse inligting het en nie negatiewe besluite oor ‘n instelling op eensydige propaganda-persepsies neem nie,” het dr. Mulder na die besoek gesê.
Die Oorlogsmuseum is een van die departement van kuns en kultuur se entiteite en kry meer as 90% van sy inkomste van die departement. Slegs 3,8% van die museum se inkomste is uit eie bronne.
In die verlede was daar baie kritiek vanaf ANC-regeringskringe op seker historiese- en kultuurmuseums en selfs dreigemente om die staat se bydrae tot hulle finansies af te sny of drasties te verminder. So ‘n finansiële besluit sal tot die afdanking van personeel lei en so ‘n museum se aktiwiteite ernstig inperk.
“Uit die positiewe reaksies van komiteelede na die besoek is my indruk dat die komiteelede die besoek geniet het en baie geleer het,” het Mulder gesê.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670