Panyaza Lesufi het met sy mislukkings en optrede as LUR vir onderwys bewys dat Gauteng sal ly as hy premier sou word. Die inwoners van Gauteng verdien beter.
Die VF Plus ontbloot al vir jare Lesufi se mislukkings en die ongerymdhede in sy departement.
Die party gaan verskeie veldtogte loods om Lesufi verantwoording te laat doen vir sy reeks vals rasverdelende-veldtogte, die finansiële wanbestuur van sy departement veral tydens die Covid-19-pandemie, asook die gebrek aan voldoende veilige skole.
Hierdie veldtog sal sy verloop neem tot en met die 2024-algemene verkiesing waartydens die VF Plus saam met ander opposisiepartye in koalisie die ANC uit die tuig wil lig en 'n nuwe regering vorm wat skoon en billik sal regeer in die belang van alle Gautengse inwoners.
Lesufi is die afgelope naweek verkies as ANC-voorsitter in Gauteng en sal waarskynlik premier word indien die ANC die nasionale verkiesing in 2024 wen.
Hy is bekend as 'n rasse-demagoog wat op vals gronde skoolgemeenskappe teen mekaar opstel. Sy premierskap sal Gauteng in 'n moeras van rasse-konflik laat verval, die stotterende ekonomie verder vernietig en enige vorm van sosiale kohesie en samewerking tussen Gautengers tot 'n einde bring.
Lesufi is ook bekend vir sy oënskynlike haat jeens Afrikaans as taal en die Afrikaanse gemeenskap wat hy gereeld as instrument gebruik om verdeeldheid en onmin te saai tussen andersins vreedsame gemeenskappe in Gauteng.
Die Gautengse departement van onderwys voer al vir jare onder Lesufi 'n fyn beplande aanslag teen die Afrikaanse gemeenskap en hul skole onder die valse voorwendsel dat die taal leerders op grond van ras uitsluit.
Hy het daarmee telkens opsetlik gesorg dat onskuldige skoolgemeenskappe op grond van ras teenoor mekaar opgestel word wat plek-plek tot geweld geëskaleer het wat leerders, ouers en onderwysers se lewens in gevaar gestel het.
Die Gautengse departement van onderwys strompel van krisis na krisis onder Lesufi se leiding wat mens 'n aanduiding gee hoe hy die provinsie as premier sal bestuur.
Sy departement het weens 'n gebrek aan 'n behoorlike infrastruktuur-inspeksiestelsel die omgewing geskep waar leerders in 2019 gesterf het en beseer is tydens die val van 'n oorhoofse sementblok by die Hoërskool Driehoek.
Verder is Lesufi se departement deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) uitgewys as die regerings-afdeling waar van die grootste Covid-19-verwante bedrog in die land gepleeg is.
Lesufi het in sy loopbaan as LUR van onderwys oor en oor bewys dat hy roekeloos regeer en nie in staat is om as verkose leier in die belang van alle Gauteng-inwoners op te tree nie.
Hy het tot dusvêr sy belangrike posisie eerder misbruik om 'n persoonlike vendetta teen die Afrikaanse gemeenskap te voer, verdeeldheid te saai en leerders en kleuters se lewens in gevaar te stel terwyl miljarde rande uit sy departement wanaangewend of gesteel word.
Gauteng verdien beter en daarom moet Lesufi gestop word.
Die VF Plus sal daardie mandaat vervul.