Die Pumas-span se sege in die Curriebekertoernooi dien as bewys dat die krag van sport nooit onderskat kan word nie.
Sport kan mense oor verskeie grense heen verenig, soos tans duidelik in die provinsie gesien kan word met euforie wat mense vanuit alle agtergronde verenig.
Die Pumas het die Griekwas Saterdag met 26-19 verslaan. Dit was die eerste keer in 133 jaar wat die Pumas die gesogte beker wen.
Die VF Plus in Mpumalanga wens die Pumas hartlik geluk met dié uitstekende prestasie. Die beste twee spanne in die Curriebekerreeks het teen mekaar meegeding, maar die span van Mpumalanga se vaardighede en volharding het die deurslag gegee.
Die gevoel van provinsiale trots het die afgelope paar jaar saam met die inkrimping van die land se ekonomie tot ‘n ongekende laagtepunt gedaal.
Werkloosheid, hoë misdaadvlakke, stygende inflasie, armoede en swak dienslewering het ‘n kollektiewe gevoel van wanhoop gevestig.
Die Pumas se oorwinning was daarom ook oor ‘n gevoel van moedeloosheid en die bewys dat daar wel eenheid in die provinsie se groot verskeidenheid mense kan wees.
Dit is byna net so belangrik as die verowering van die gesogte Curriebeker.
Die Pumas-span het sy deel gedoen om Mpumalanga hoop te gee en om nasiebou te bevorder. Nou moet almal in die provinsie daarop voortbou.