Die Ekurhuleni-metro gaan eindelik met herstelwerk begin aan die gevaarlike Stoffberg-duikweg in Brakpan ná volgehoue druk van die VF Plus.
Die duikweg, wat baie deur voetgangers, insluitend skoolkinders asook motoriste gebruik word, is al maande lank in ’n haglike toestand weens slaggate, verspoelings en swak stormwaterinfrastruktuur. Dit het al tot ernstige ongelukke gelei, waaronder ’n noodlottige voorval in 2024 toe ’n man in sy motor verdrink het nadat vloedwater die duikweg oorspoel het.
Die VF Plus het sedert Januarie vanjaar aanhoudend druk uitgeoefen op die metro om met die probleem te handel weens die daaglikse veiligheidsrisiko wat dit inhou.
Die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Lindiwe Mnguni, het tydens die jongste raadsvergadering erken dat die veiligheid van padgebruikers prioriteit geniet. Sy het belowe dat die pad en stormwaterstelsel teen 30 April 2026 herstel sal word en dat die gebied intussen gemonitor sal word met tydelike veiligheidsmaatreëls, veral tydens swaar reën.
Die VF Plus beskou hierdie herstelwerk slegs as die eerste stap. ’n Volledige opgradering van die duikweg is noodsaaklik om seker te maak dat motoriste en voetgangers die infrastruktuur permanent veilig kan gebruik sonder vrees vir lewensverlies of skade.
Die VF Plus sal die herstelwerk noukeurig monitor en die metro aanspreeklik hou om die sperdatum van 30 April te haal.
Inwoners word aangemoedig om voort te gaan om alle padprobleme onverwyld aan te meld en hul amptelike verwysingsnommers te bewaar. Hierdie nommers is deurslaggewend om die metro wetlik aanspreeklik te hou in die geval van toekomstige skade, lewensverlies of regsaksie wat uit infrastruktuur-versuim voortspruit.


