Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Geweldskultuur in Suid-Afrika plaas dit op gevaarlike pad na anargie en totale wanorde

Die geweldskultuur in Suid-Afrika ontspoor die land en plaas dit op ’n gevaarlike pad na anargie en totale wanorde.

Die jongste voorbeeld hiervan is die moord op, ds. Danie Oosthuizen, afgetrede NG-predikant van Primrose-Oos in Germiston op 6 April – ’n tragiese voorval wat opnuut die toenemende wetteloosheid en geweld in gemeenskappe onderstreep.

Hierdie soort misdaad skep nie net ’n klimaat van vrees nie, maar ondermyn ook die hoeksteen van ’n stabiele samelewing.

Wanneer landsburgers nie meer veilig in hul eie huise en gemeenskappe voel nie, word die vertroue in die staat en sy vermoë om veiligheid te verseker, ernstig geskaad.

Suid-Afrikaners sal ernstig moet besin oor die toekoms wat hulle vir hulself en hul kinders wil skep. Dit vereis ’n doelbewuste herstel van die land se morele kompas en die bevordering van ’n kultuur van respek, verantwoordelikheid en verdraagsaamheid teenoor mekaar.

Geweld en wetteloosheid kan doodgewoon nie genormaliseer word nie.

Terselfdertyd moet misdadige optrede daadwerklik voorkom word deur verbeterde intelligensiestelsels en proaktiewe misdaadvoorkoming. Dit sluit onder meer in die beter identifisering, keuring en kwalifikasie van werkers voor aanstelling, asook die verskerping van optrede teen onwettige immigrasie deur wetstoepassingsagentskappe.

Die VF Plus is van mening dat sterk politieke wil, beter koördinering tussen wetstoepassingsagentskappe en gemeenskapsbetrokkenheid noodsaaklik is om die geweldskultuur te stuit en stabiliteit te herstel.

Die VF Plus betoon sy innige medelye met die familie, vriende en gemeente van die oorledene in hierdie moeilike tyd.

Hierdie tragiese verlies herinner Suid-Afrika opnuut daaraan dat daadwerklike optrede nodig is om die land se veiligheid en toekoms te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.