Die VF Plus in Brakpan eis onmiddellike en beslissende optrede van die Ekurhuleni-metroraad om die gevaarlike agteruitgang van die Stoffberg-duikweg aan te spreek.
Dit kom nadat die duikweg die afgelope naweek weer gesluit moes word nadat stormwater dit oorspoel het.
Ten spyte van talle klagtes en waarskuwings aan die metroraad, val oproepe om die pad te herstel en dreinering te verbeter, op dowe ore.
Dit ten spyte daarvan dat swak padtoestande, wat deels deur vloedwater veroorsaak is, verlede jaar tot ‘n noodlottige ongeluk by dié duikweg gelei het.
Die afgelope naweek se swaar reën het die situasie verder vererger en die duikweg is nou nie meer bloot ‘n ongerief nie, maar ‘n direkte gevaar vir die veiligheid van almal wat dit gebruik.
Inwoners verdien meer as die herhaalde sluiting van die duikweg elke keer wanneer dit reën. Hulle verdien ‘n permanente oplossing en volle aanspreeklikheid van die owerhede.
Die VF Plus het nie net die slaggate en swak padoppervlak by die departement van paaie en stormwater aangemeld nie, maar eis ook ‘n deeglike ingenieursverslag oor waarom stormwater van alle rigtings na die duikweg vloei. Die dreineringstelsels moet gereeld skoongemaak en onderhou word om toekomstige oorstromings te voorkom.
Die VF Plus sal geen vae antwoorde of verdere vertragings aanvaar nie.
Die risiko neem met elke storm toe, terwyl die metroraad van inwoners verwag om geduldig te bly en die gevaar te verduur. Die tyd het aangebreek vir duidelike terugvoer, konkrete tydlyne en verantwoordbare leierskap.


