Die ANC/EFF-koalisie in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) het die metro tot ’n krisis gedryf weens volgehoue versuim om kritieke infrastruktuur te onderhou.
Wat tans in die metro afspeel, is nie ’n onverwagte ramp nie, maar die voorspelbare uitkoms van jare se onbevoegdheid, wanbestuur en politieke onverskilligheid.
Die mees sigbare bewys van hierdie verval is die kragkrisis. Drie kragmaste het onlangs ineengestort op sleutel-132 kV lyne wat noodsaaklik is vir die stabiliteit van die metro se elektrisiteitsvoorsiening.
Die omvang van die skade verg grootskaalse herstelwerk, maar die munisipaliteit weier om aanspreeklikheid te aanvaar.
Die gevolge is wydverspreide ontwrigting, ekonomiese verliese en ’n groeiende gevoel van onveiligheid.
Die heersende waterkrisis vererger die situasie. Die vyf hoofdamme wat die metro en omliggende gebiede bedien, het gesamentlik onder die 40%-vlak gedaal.
Alhoewel droogte ’n rol speel, lê die kern van die probleem by massiewe waterlekkasies en ’n totale gebrek aan instandhouding van die waternetwerk. Miljoene liter water gaan verlore terwyl inwoners van ’n basiese lewensbehoefte ontneem word.
Dit is die direkte gevolg van ’n munisipaliteit wat nalaat om roetine- en noodsaaklike instandhouding te doen.
Die VF Plus het herhaaldelik gewaarsku oor die verslegtende toestand van beide die krag- en waterinfrastruktuur, maar die ANC-koalisie en die stadsadministrasie het hierdie waarskuwings bloot geïgnoreer.
Intussen ly ondernemings groot finansiële verliese, voedselvoorrade bederf en inwoners se daaglikse lewe word ernstig ontwrig. Gesinne sit sonder lig, veiligheid en basiese dienste, terwyl die munisipale leierskap skitter in sy afwesigheid.
Inwoners verdien beter. Verandering is nie meer ’n opsie nie – dit is ’n noodsaaklikheid.


