Dit is ironies dat die Mopani-distrik waarin die Groter Tzaneen-plaaslike munisipaliteit val, onlangs as ʼn rampgebied verklaar is ná swaar reën en vloede, maar dat inwoners van Tzaneen al vir vyf dae sonder water in hul krane sit.
Die oorsake van dié krisis lê nie by die natuurramp nie, maar is weens die ANC se jarelange se verwaarlosing van kritieke infrastruktuur en wanbestuur.
Aanhoudende kragonderbrekings, rugsteunstelsels wat faal (generators sonder diesel en verbrande kabels) en ’n massiewe lekkasie op die hoofpyplyn vanaf die reservoir mors daagliks duisende liters drinkwater. Terwyl water in die grond wegloop, sit gesinne sonder ’n druppel in hul krane.
Sedert 2020 het sogenaamde “water shedding” – die beplande afskakeling van watervoorsiening tussen 21:00 en 04:00 – ’n onaanvaarbare “norm” in Tzaneen geword.
Inwoners word doelbewus van ’n basiese diens ontneem omdat die munisipaliteit nie die kapasiteit het om ’n volhoubare waternetwerk te bestuur nie.
Die gemeenskap het ’n breekpunt bereik met geen water om te drink, te kook of basiese higiëne te handhaaf nie.
Daar is geen amptelike terugvoer oor hersteltye, geen betroubare ontplooiing van watertenkwaens en geen noodplanne nie. Pogings om met die betrokke departement te skakel, het op dooie ore geval, met ontwykende antwoorde van direkteure en bestuurders.
’n Dringende skrywe is gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Donald Mhangwana, waarin ’n onmiddellike vergadering geëis word om die mislukkings, insluitend die lekkasie, aan te spreek en ’n uitvoerbare plan te implementeer.
Die ANC-beheerde munisipaliteit het jare gehad om infrastruktuur te onderhou, maar het gefaal.
Hierdie krisis is nie die gevolg van vloede nie, maar is ’n mensgemaakte ramp wat inwoners se gesondheid, waardigheid en daaglikse lewe bedreig.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen vir volle aanspreeklikheid en onmiddellike optrede.


