fbpx
Vryheidsfront Plus

Stilgeboorte in Themba-hospitaal: VF Plus vra dringende ondersoek ná vrou ure wag op hulp

Die VF Plus het Mpumalanga se LUR vir gesondheid, me. Sasekani Manzini, versoek om ongerymdhede te ondersoek rondom ‘n stilgeboorte in Hazyview.

Die voorval het hierdie week plaasgevind nadat die vrou ure lank by die Themba-staatshospitaal in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) op hulp gewag het.

Die VF Plus het die vrou gaan besoek waartydens sy vertel het dat sy deur 'n plaaslike kliniek na die hospitaal verwys is. Dit was nadat daar probleme met haar ongebore baba se hartklop opgemerk is.

Met haar aankoms by Themba moes sy egter ure lank wag op mediese behandeling. Toe sy laatmiddag uiteindelik ondersoek is, was die baba reeds dood.

Sy moes daarna nog 'n verdere 24 uur wag voordat 'n induksie gedoen is. Dit was glo omdat daar slegs een dokter aan diens was by die hospitaal.

Volgens die vrou is daar onsekerheid of die baba gered kon word indien sy betyds 'n noodkeisersnee kon kry. Sy was 35 weke swanger.

Die ondersoek moet nie net fokus op hierdie voorval nie. Daar moet ook oplossings gevind word om die kritieke tekort aan medici in die hospitaal aan te spreek.

Volgens ’n verpleegster in die kraameenheid van die hospitaal, is een dokter verantwoordelik vir alle pasiënte in vier eenhede. Dit sluit die kraameenheid en ongevalle-afdeling in.

Die verpleegster is ook die enigste verpleegster in twee eenhede. Themba-hospitaal is een van die besigste staatshospitale in die provinsie.

In die departement se verslag vir die 2021/22-boekjaar, word konstruksie beplan om die stampvol kraameenheid by die hospitaal te vergroot. Die ernstige tekort aan mediese personeel word egter nie bespreek nie.

Die departement het ook in sy 2022/23-begrotingstoespraak gesê ’n lynbestuurstelsel om lang wagbeurte te bestuur is hierdie jaar in plek gestel is en sal miljoene rand kos om te bedryf.

Verder is die departement gedompel in skuld van meer as R10 miljard in voorwaardelike aanspreeklikheid as gevolg van mediese nalatigheid.

Themba-hospitaal is een van die provinsie se grootste sondebokke vir mediese nalatigheid, en nog steeds word die kwessie van ’n tekort aan mediese personeel nie bespreek nie.

Die onvermoë van die regering om probleme te identifiseer en op te los, stel die publiek se lewe in gevaar.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.