fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng se e-tolstryd is nog lank nie verby

Die VF Plus het as een van die eerste stryders teen die omstrede e-tolstelsel kennis geneem van die verskuiwing van Sanral se e-tol-skuldlas na die nasionale- en Gautengse provinsiale regering. Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, moet egter steeds die stelsel formeel tersyde stel.

Al wat sover gebeur het, is dat die minister van finansies, Enoch Godongwana, met sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) die gifbeker van die ontwikkelingskostes van die e-tolstelsel en die Gautengse snelweg-opgraderingskostes vanaf Sanral na die nasionale en Gautengse belastingbetalers geskuif het.

Dit is steeds 'n ope vraag hoe die skuld gefinansier gaan word en die VF Plus monitor die situasie.

Die gehate e-tolstelsel is dus nog nie amptelik dood nie en daarom moet die druk teen die ANC volgehou word om dit finaal tot ‘n einde te bring. Ook om diegene wat die monster geskep het, tot verantwoording te roep.

Die VF Plus loods daarom opnuut 'n veldtog teen e-tol en die ANC wat dit geskep het.

Die eerste doelwit is om te sorg dat die ANC-regering in Gauteng sy belofte gestand doen om die stelsel af te skaf.

Beide die vorige premier van Gauteng, David Makhura en die huidige premier, Panyaza Lesufi, het telkens beloof om die stelsel af te skaf deur ‘n ooreenkoms met die nasionale ANC-regering aan te gaan.

Tot dusver was hul pogings vrugteloos en net leë woorde.

Indien dit nie afgeskaf word nie of selfs gedeeltelik behou word, sal die VF Plus poog om as deel van ‘n nuwe Gautengse koalisieregering ná die 2024-verkiesing ‘n hofaansoek teen die nasionale regering te bring om die stelsel af te skaf.

Die hofaansoek behoort slegs nodig te wees indien die ANC steeds op nasionale vlak sou regeer.

Indien ‘n koalisieregering, waarvan die VF Plus sal deel uitmaak ook op nasionale vlak regeer, sal die VF Plus sorg dat die stelsel afgeskaf word.

Indien dit nodig sou wees om ‘n hofaansoek deur die provinsiale koalisieregering te bring, kan die wettigheid al dan nie van die e-tolstelsel finaal namens Gauteng se inwoners bereg word sonder dat hulle self direk moet opdok vir die regskoste.

Die tweede doelwit is om te sorg dat daar aanspreeklikheid is vir diegene verantwoordelik vir die skep van die e-tolstelsel.

Sou e-tol wel nou afgeskaf word, moet die waarheid rakende die ontstaan en wettigheid al dan nie van die stelsel finaal vasgestel word deur die skep van ‘n kommissie van ondersoek.

Indien die nasionale regering nie ‘n kommissie wil skep nie, sal die VF Plus as regeervennoot in die Gautengse koalisieregering sorg dat ‘n provinsiale kommissie van ondersoek geloods word.

Indien e-tol nie nou afgeskaf word nie, sal die VF Plus sorg dat die waarheid ontbloot word in die beplande hofsaak tussen die Gautengse koalisieregering en die nasionale regering wat die VF Plus wil inisieer as regeervennoot.

Voortspruitend uit of die kommissie van ondersoek of die hofaansoek moet alle persone en rolspelers wat moontlik betrokke was by die skep van die stelsel persoonlik aanspreeklik gehou word sover dit regtens moontlik is.

Dit sluit ook diensverskaffers in. Alle onreëlmatige inkomste wat verdien is, moet teruggevorder word, ook dié van oorsese diensverskaffers indien aanspreeklikheid gevestig is.

Laastens wil die VF Plus ondersoek of daar genoegsame regsgronde bestaan vir alle persone wat e-tol betaal het om dit in ‘n groepsgeding terug te vorder.

Die VF Plus het ‘n paar jaar gelede deur middel van parlementêre vrae ontdek dat die meetinstrumente van die e-tolstelsel nooit deur die standaardowerhede gesertifiseer was nie.

Dit het daarom vir ‘n geruime tyd tegnies onwettig gefunksioneer. Enige fondse in dié tyd ingevorder behoort terugbetaalbaar te wees.

Indien die hele proses vir die skep van die e-tolstelsel onwettig blyk te wees, behoort alle fondse betaal sedert die stelsel aangeskakel is, ook terugbetaalbaar te wees.

Die VF Plus was die eerste organisasie wat besef het dat bestaande en reeds afbetaalde snelweë elektronies getol gaan word en het destyds in Februarie 2011 ‘n aanlyn petisie geloods wat in drie weke 130 000 handtekeninge gewerf het.

Sedertdien was die VF Plus aan die voorpunt van die stryd teen e-tol in die parlement en het sy steun ten volle aan Outa gegee om die kwessie in die hof te beveg.

Die VF Plus het deur myself (destyds LP), die Sanral-wet suksesvol gewysig sodat alle belanghebbendes insae het in enige ekonomiese impakstudies wanneer 'n nuwe tolstelsel oorweeg word.

Dit stel belanghebbendes in staat om meer ingelig enige nuwe tolstelsel te evalueer en te opponeer.

Die VF Plus beskou dit as sy plig om te sorg dat e-tol nou sy laaste asem uitblaas en aanspreeklikheid gevestig word teenoor diegene wat dit op Gauteng afgedwing het.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.