Streng optrede is nodig nadat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) in Mpumalanga onreëlmatighede rondom die tender vir wateropgaartenks en boorgate uitgewys het.
Dié tender van R182,7 miljoen is deur die provinsiale departement van menslike nedersettings uitgereik.
Volgens die SOE sou die departement boorgate sink en wateropgaartenks by 247 skole in Mpumalanga oprig. Daar is glo ook ‘n verdere 127 gemeenskappe vir die projek geïdentifiseer.
Die bevindinge van die SOE sluit in dat nie een van die wateropgaartenks in werking is nie. Die tenks is teen ‘n koste van R5 miljoen elk geïnstalleer.
Die kontrakteur word nou ook deur die polisie ondersoek nadat die ineenstorting van een van die tenks se staalstrukture glo die dood van ‘n kind veroorsaak het.
Die VF Plus het reeds in April 2022 die openbare beskermer (OB) gevra om die departement te ondersoek vir die sink van peperduur boorgate waarvoor in sekere gevalle meer as R800 000 per boorgat betaal is. Dit was vir nog ‘n kontrak ter waarde van R18 miljoen.
Die party het in 2022 die premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, versoek om terugvoer te gee oor die ondersoek na die wanbesteding van die droogtenoodfonds aangaande opgaartenks en boorgate.
Die VF Plus sal die proses fyn dophou om seker te maak dat alle betrokkenes wat hulself skuldig gemaak het aan wanbesteding van fondse en korrupsie, aan die pen ry.