Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Steek hand in eie boesem oor vergrype teen vroue en kinders

Dit is ‘n jammerte dat politieke partye die debat oor geweld teen vroue en kinders gebruik om goedkoop politieke punte te probeer aanteken en dit opsigself kom neer op misbruik teen vroue en kinders, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die debat oor sestien dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders gesê dit help nie om rakende dié onderwerp die blaamspel te speel en skuld op ander soos die polisie, politieke partye of maatskaplike werkers te wil pak nie.

Hy het gesê die vraag moet eerder gevra word wat die gemeenskap self doen om vroue en kinders te beskerm.

“Vra jouself af of jy ‘n voorbeeld stel oor respek teenoor vroue en kinders. Dit is die onderliggende probleem in ons gemeenskap; daar is nie meer dissipline, of respek vir mekaar nie. As ons die probleem rondom vroue en kinders wil oplos, moet ons eers seker maak dat ons mekaar respekteer.

“Daar is ongelukkig nie ‘n volledige prentjie oor die omvang van geweld teen vroue en kinders nie. Statistiek toon aan dat seksuele oortredings in die omgewing van 50 000 per jaar is en dat dit afneem. Dit skets egter nie ‘n volledige prentjie nie.

“Ek het in die verband ‘n vraag gevra aan die minister van justisie, en luidens sy antwoord was daar in die laaste drie finansiële jare nie minder nie as 264 619 beskermingsbevele aan vroue uitgereik.

“Daar is nie ‘n misdaadkategorie spesifiek vir gesinsgeweld nie. Baie keer manifesteer dié geweld in ‘n aanrandingsaak, of sake van poging tot moord of aanranding met die opset om ernstig te beseer. Dié statistiek verwring dus die werklike omvang van geweld teen vroue en kinders.

“Ek het reeds die saak aangeroer by die portefeuljekomitee oor polisie dat statistiek geskei word om ‘n duideliker prentjie te kry van die ware omvang van geweld teen vroue en kinders en in besonder gesinsgeweld in Suid-Afrika, en ek kry goeie steun hiervoor.

“Ek wil nogtans klem daarop plaas dat elke persoon deur introspeksie respek vir homself moet aankweek, want dan sal jy respek hê vir vroue en kinders,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.