Die speaker van Mogale City, rdl. Patrick Lipudi en sy kaders, doen alles in hul vermoë om die koalisie-regering in hul werksaamhede te stuit nadat hy geweier het om ‘n raadsvergadering te belê om 'n mosie van wantroue teen die speaker te bespreek.
Amanda de Lange, VF Plus-raadslid en deel van die koalisieregering in die Mogale City-stadsraad, het Maandag hul misnoeë teen die speaker se besluit uitgespreek. "Ons volg die remediërende roete en sal nie huiwer om regstappe te oorweeg om die ANC-speaker verantwoordbaar te hou nie," het sy gesê.
Volgens de Lange hanteer die speaker, rdl. Lipudi (ANC-lid), feitlik geen dringende sake nie en die mosie van wantroue wat op 4 November teen hom ingedien is, is steeds hangende aangesien die kwessie tydens 'n raadsvergadering aangespreek moet word. “Daar was 'n versoek van meer as die helfte van die raadslede vir 'n dringende raadsvergadering maar die speaker het met opset 'n stokkie voor die vergadering gesteek.
“Die speaker word verplig om volgens Skedule 1 van die Plaaslike Regering se Munisipale Stelselwet, 2000 (Wet 32 van 2000) te sorg dat raadsvergaderings plaasvind volgens die reëls en regulasies van die stadsraad. Die ANC het egter hulle eie ‘stel regulasies’ in Mogale City opgestel en die ANC-speaker probeer die wette afdwing tot die ANC se voordeel. Die veranderde regulasies is nooit in die Staatskoerant gepubliseer nie.
“In dié geval het speaker Lipudi die wet blatant verontagsaam en self besluit dat daar nie ‘n raadsvergadering moet plaasvind nie en alles gekanselleer.”
Sy sê voorts dit is jammer dat die ANC alles in hul vermoë doen om steeds die leisels vas te hou en die stadsraad deur ‘n agterdeur te probeer bestuur. Die speaker het ook genoeg hulp van ANC-kaders wat steeds in senior poste aangestel is.
“Dringende sake wat aandag verlang is onder andere die ondersoek na twee senior amptenare wat nooit op kantoor is nie terwyl hulle meer as R2 miljoen per jaar verdien. Die finansiële- en administrasiestelsel wat die munisipaliteit reeds jare lamlê moet ook spoedig aandag kry.
“Dit is 'n hartseer dag as die ANC, ten koste van die belastingbetalers in Mogale City, sy wil en mag probeer afdwing in die raad – selfs op 'n onwettige wyse. Die regerende partye gaan egter nie in 'n hoek gedryf word nie. Ons wil struikelblokke nou oorkom sodat ons voltyds op die belange van die inwoners kan fokus,” het De lange bygevoeg.
071 604 9498